Messi maak Ballon d’Or-geskiedenis

Lionel Messi met die Ballon d’Or-toekenning. (Foto: Instagram/@francefootball)

Die gesogte Ballon d’Or-toekenning, die jaarlikse toekenning aan die sokkerspeler van die jaar, is vir die sewende keer deur die Paris St. Germain- en Argentinië-sokkerspeler Lionel Messi ingeoes.

Dit is ʼn rekordgetal kere dat dié gesogte sporttoekenning aan ʼn speler toegeken is. Die toekenning word deur die Franse tydskrif France Football uitgedeel en is die mees gesogte toekenning wat deur ʼn individuele sokkerspeler gewen kan word.

Messi (34) het sy span gehelp om vanjaar die Copa America-toernooi te wen en het meer as 40 doele in 2021 aangeteken – 28 vir Barcelona, vier vir Paris St. Germain en agt vir Argentinië.

Robert Lewandowski, doelskieter vir Bayern München en Pole, het tweede gekom, terwyl die Chelsea- en Italië-middelveldspeler Jorginho derde geëindig het. Real Madrid se Franse doelskieter, Karim Benzema, het vierde gekom.

Altesaam 180 joernaliste van oor die hele wêreld stem vir die Ballon d’Or, hoewel daar in 2020 weens die pandemie geen toekenning uitgedeel is nie.

Messi en Cristiano Ronaldo het van 2008 tot 2019 die toekenning elke jaar ingeoes, buiten in 2018 toe die Kroasiese middelveldspeler Luka Modric die toekenning gewen het.

Messi het voorheen die toekenning in 2009, 2010, 2011, 2012, 2015 en 2019 gewen – meer kere as enige ander speler.

“Dit is ongelooflik om weer hier te wees,” het hy tydens die seremonie, wat by die Theatre du Chatelet in Parys, Frankryk, aangebied is, gesê.

Die Ballon d’Or-toekenning. (Foto: Instagram/@francefootball)

“Twee jaar gelede het ek gedink dit is die laaste keer. Mense het begin vra wanneer ek gaan uittree, maar hier is ek weer in Parys en is baie gelukkig. Dit was ʼn spesiale jaar vir my met die Copa America-titel. Dit het baie beteken om te wen [1-0 teen Brasilië in die finaal] by die Maracana-stadion en ek was so gelukkig om dit saam met die mense van Argentinië te vier.”

Messi het ook die Poolse kaptein, die 33-jarige Lewandowski, gelukgewens. “Dit was ʼn eer om teen hom te staan te kom. Hy het dit verdien om die toekenning verlede jaar te wen.”

Lewandowski het 53 doele in al die toernooie in 2021 vir Bayern München aangeteken en is as doelskieter van die jaar aangewys, terwyl die Champions League-wenner, Chelsea, as klub van die jaar aangewys is.

Veertien van die 30 spelers wat op die kortlys vir die Ballon d’Or-toekenning was, speel tans in die Premier-liga.

Alexia Putellas is met die Ballon d’Or vir vrouspelers vereer.

Bron: BBC

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Peach ·

Wonder hoekom Bafana Bafana, of Banyana Banyana nie vir die span vd jaar oorweeg is nie. Laat mens wonder in die geloofwaardigheid van die toekenning.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.