Meta ondersoek wêreldwye probleem met Facebook, Instagram

Logo’s van Facebook en Instagram op die skerms van ʼn tabletrekenaar en ʼn slimfoon (Foto: Lionel Bonaventure/AFP)

Meta het Dinsdag ʼn ongewone onderbreking beleef op al sy sosialemediaplatforms. Gebruikers van Facebook, Instagram en Threads is onverwags uit hul profiele uitgeteken.

“Ons is bewus daarvan dat sommige mense sukkel om toegang te bekom tot ons dienste. Ons werk nou hieraan,” het Andy Stone, woordvoerder vir Meta, op X gesê.

Teen 12:00 Amerikaanse ooskustyd (1700 GMT) het die webwerwe oënskynlik na normaal teruggekeer – sowat twee ure ná die onderbreking vir die eerste keer aangemeld is.

Volgens die DownDetector-webwerf het berigte, dat Facebook onklaar geraak het, teen 1530 GMT ʼn hoogtepunt van 500 000 bereik. Instagram het teen dieselfde tyd sowat 70 000 berigte ontvang.

Threads, ʼn mededinger vir X (Twitter) wat in 2023 bekendgestel is, het ook berigte ontvang van gebruikers wat sukkel om aan te meld.

WhatsApp, Meta se boodskapdiens, is klaarblyklik nie deur die probleem geraak nie.

Facebook het in Oktober 2021 ʼn soortgelyke probleem ondervind en dit is aan tegniese kwessies toegeskryf, nie ʼn kuberkrakery soos oorspronklik gevrees is nie.

Gebruikers wat Dinsdag hul Facebook-profiele wou oopmaak, is gevra om weer aan te meld, maar hulle het slegs ʼn boodskap ontvang dat hul wagwoorde verkeerd is. Op Instagram wou geen nuwe plasings laai nie.

Facebook is die wêreld se grootste sosialemediaplatform met 3 miljard aktiewe maandelikse gebruikers. Instagram het sowat 1,35 miljard gebruikers, aldus die jongste data.

X het ʼn skielike toename in aanlyn aktiwiteit beleef toe gebruikers nie hul Meta-profiele kon oopmaak nie.

“Toets, toets, ja, alles loop glad hier,” het Linda Yaccarino, uitvoerende hoof van X, geskerts.

Amerikaanse media het gefokus op die feit dat die onderbreking op Super Tuesday plaasvind, die dag wat miljoene mense in 15 state en een streek aan die primêre verkiesing deelneem.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Adri ·

Teen Woensdagoggend wou my Facebook steeds nie oopmaak nie. Dit laat ‘n mens maar besluit om Facebook uit jou lewe te sny.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.