Mev. Wêreld in Sri Lanka in hegtenis geneem

Jurie het die kroon van De Silva se kop afgepluk op die verhoog. (Foto: AFP)

Die polisie in Colombo, Sri Lanka, het die huidige Mev. Wêreld in hegtenis geneem oor klagtes van aanranding ná ʼn onderonsie op die verhoog toe sy die kroon van die nuwe Mev. Sri Lanka se kop afgepluk het.

Maroela Media het vroeër berig Caroline Jurie het die kroon van Pushpika de Silva se kop afgeruk minute ná sy Sondag as Mev. Sri Lanka 2020 aangewys is by ʼn glansryke geleentheid by Colombo se Nelum Pokuna-teater.

Jurie was die vorige jaar se Mev. Sri Lanka en is daarna ook as Mev. Wêreld aangewys in ʼn kompetisie wat deur ʼn Kaliforniese maatskappy gereël is.

De Silva moes behandeling in die hospitaal ontvang ná die voorval. Toeskouers in die volgepakte saal en op ʼn regstreekse uitsending op sosiale media het sprakeloos na die voorval gekyk.

“Ons het Jurie en [haar vennoot] Chula Manamendra in hegtenis geneem in verband met ʼn aanklag van aanranding en opsetlike saakbeskadiging aan die Nelum Pokuna(-teater),” het senior polisiebeampte Ajith Rohana gesê.

De Silva het Donderdag buite ʼn polisiestasie in Colombo aan verslaggewers gesê sy is gereed om die aanklagte te laat vaar as Jurie publiek om verskoning vra, maar Jurie het geweier. “Ek wou dit buite die hof oplos, maar sy het geweier,” het De Silva gesê. “Ek kan vergewe, maar ek kan nie vergeet nie.”

Volgens die polisie sal die saak op 19 April in die hof voorkom en Jurie en Manamendra is Donderdag op borgtog vrygelaat. Die twee het glad nie met verslaggewers gesels nie.

Jurie het aan die einde van Sondag se seremonie aangevoer De Silva is geskei en kan dus nie in aanmerking kom vir die titel nie. Haar onverwagse aankondiging het tot oproerigheid gelei ná die eregas, eerste minister Mahinda Rajapaksa se vrou, Shiranthi, die teater verlaat het. Deelnemers moet getroud wees om in aanmerking te kom vir die titel. De Silva en haar man is vervreem van mekaar, maar nog steeds wettig getroud.

Die plaaslike franchise-houer vir die kompetisie, Chandimal Jayasinghe, het gesê hulle is “baie ontsteld en baie jammer” oor Jurie se gedrag. Hulle eis vergoeding van Jurie vir skade aan die verhoog en kleedkamers waar verskeie spieëls gebreek is.

Die voorval het daartoe gelei dat die geleentheid twee uur langer geduur het en die bestuur van die teater eis dus ook ʼn bykomende fooi van halfmiljoen roepees (sowat R97 000), het Jayasinghe bygevoeg.

Jurie word ook deur die organiseerders daarvan beskuldig dat sy die geleentheid se naam laat skade ly het.

Gebruikers op sosiale media het versoek dat Jurie van haar Mev. Wêreld-titel gestroop moet word en ʼn meme word gedeel waar daar versoek word dat sy as “Mev. Onderwêreld” hernoem moet word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

10 Kommentare

jongste oudste gewildste
Peetjie

En toe het mev. Wêreld glad nie styl nie… Eish ????

Tanniepetoors

Toppunt van eenvoudigheid.

jzjz05

Is dit hoe n mev wereld haar gedraë.??En as jy as n mev aan gespreek word is jy getroud ,waar oor die geraas oor dat sy getrou is of was.as jy as mej aangespreek word dan is jy nog ongrtoud.

deHAS

Toegang vereiste is om getroud te wees, en sy was getroud toe sy begin het.

isabelle

sies baie lelike gedrag! Ag die skoonheid kompetisies is inelkgeval nie meer wat dit was nie…meeste dames is nie eers meer natuurlik mooi nie dis sommer nou valse oogwimpers hare ens