Mexiko-aardbewing: Kragtigste in 100 jaar; sterftes aangemeld

‘n Winkelsentrum in Chiapas. Foto: Xinhua.

Die dodetal in ʼn reuse-aardbewing wat Mexiko Donderdagnag (plaaslike tyd) getref het, het tot vyf gestyg.

Enrique Peña Nieto, die Mexikaanse president, het gesê dit is die kragtigste aardbewing in dié land die afgelope eeu.

Twee van die vyf mense wat dood is, is kinders van die Tabasco-staat, noord van die Chiapas-staat.

Een van die kinders is dood in ʼn hospitaal nadat ʼn kragonderbreking veroorsaak het dat lewensondersteunende apparaat ophou werk het en die ander een is dood toe ʼn muur ineengestort het. Twee vroue is in Chiapas dood as gevolg van vallende puin.

ʼn Tsoenami-waarskuwing is Vrydagoggend uitgereik nadat die aardbewing met ʼn sterkte van 8,2 Mexiko getref het.

Volgens die Amerikaanse geologiese opnamediens (USGS) het die aardbewing 87 km van Chiapas op ʼn diepte van 69,7 km voorgekom.

Die aardbewing het veroorsaak dat geboue geskud en mense in hul slaapklere paniekbevange in die strate in gehardloop het om van die geboue af weg te kom. Gedeeltes van Mexikostad is sonder elektrisiteit. In sommige gevalle is mense uit hospitale as voorsorgmaatreël verwyder. Klasse is ook reg oor die land afgestel om inspekteurs die geleentheid te gee om seker te maak skoolgeboue is nog veilig.

Die VSA se tsoenami-waarskuwingsdiens het gewaarsku dat wydverspreide tsoenami-golwe moontlik in die Stille Oseaan kan voorkom en kusgebiede van verskeie Sentraal-Amerika-lande kan raak. Die golwe kan die kusgebiede van Mexiko, Guatemala, El Salvador, Costa Rica, Nicaragua, Panama, Honduras en Ecuador tref. Dit hou nie ʼn gevaar vir die VSA se Weskus in nie.

Golwe van soveel as drie meter hoër as dié tydens hooggety kan verwag word langs die kus van Mexiko.

Jimmy Morales, president van die buurland Guatemala, het gesê skade-assesserings sal binnekort van stapel gestuur word. “Bly asseblief kalm,” het hy op Twitter laat hoor.

Minstens 5 000 mense is dood toe ʼn aardbewing wat 8 gemeet het Mexiko op 19 September 1985 getref het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

SARIE VAN HEERDEN ·

Misdadigers na jou huis kan gekeer (?) word op ‘n manier. Baie ander gevare kan gesystap word indien moontlik maar HOE KEER ONS AL HIERDIE NATUURRAMPE WAT NOU ORAL IN DIE WERELD VOORKOM?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.