Mexiko-aardbewing: Waar en wolhaar

Mexikostad. Foto: AP Photo/Rebecca Blackwell.

Soos gebruiklik is daar ná die groot aardbewing van 8,1 in Mexiko weer heelwat wolhaarstories in omloop oor wat die aardbewing sou veroorsaak het, of daartoe bygedra het.

Die opvallendste van dié stories is dat die volmaan iets met die aardbewing te make sou gehad het.

“Nie so nie,” sê prof. Kobus van der Walt van die Noordwes-Universiteit se Potchefstroom-kampus in sy weeklikse rubriek op RSG. Die maan het wel naas sy getywerking in die see ook ’n getywerking op land, en die oppervlak kan met tot ’n meter styg. Dit kan ook soms aardbewings “sneller”. Maar dat die volmaan daartoe kan bydra is ’n wolhaarstorie.

Is daar ’n verband tussen Noord-Korea se groot kerntoets en die Mexikaanse aardbewing vyf dae later? Mexiko het juis Noord-Korea se ambassadeur ná die ontploffing as persona non grata verklaar en die land uitgesit. Dit het egter niks te make oor die moontlike sneller van die Mexikaanse aardbewing nie. Navorsing oor of ’n groot aardbewing ’n ander kan sneller, en indien wel, oor watter afstand, verskil drasties.

Die verste afstand wat egter vir so ’n “oorgee-aardbewing” gegee word, is 800 km en dit is baie ver kort van die afstand van Noord-Korea na Mexiko.

Wat belangrik is: ’n Aardbewing wat so gesneller is sou nie plaasvind as die spanning nie reeds baie hoog opgebou het nie, en dat die aardbewing in elk geval binnekort sou plaasvind.

Die groot Mexikaanse aardbewing het juis plaasgevind op ’n spanningsvlak waar een tektoniese plaat teen ’n hele paar millimeter per jaar onder die ander inbeweeg. (Dit het gelukkig taamlik diep gebeur anders sou die skade en lewensverlies waarskynlik veel groter gewees het).

Al kan spesiale seismiese moniteringstasies aardbewings en groot ontploffings oor duisende kilometer “optel” en bepaal of dit ’n aardbewing was of ’n groot ontploffing (die USGS kan selfs groot ontploffings in gruisgroewe optel), die diepte en sterkte bepaal, is die onderskeie golwe wat waargeneem word dikwels geweldig swak – so swak dat dit gans te min energie kan oordra om nog ’n aardbewing te sneller – veral oor groot afstande.

Inwoners van Mexikostad staan in donkerte. Foto: AP

As Noord-Korea se jongste kernontploffing, die sterkste van al sy toetse tot dusver, aardbewings elders sou veroorsaak of gesneller het, sou ’n mens dit eerder in die nabygeleë Japan verwag het. Die toetsterrein is taamlik na-aan twee verskuiwingsvlakke wat weerskante van Japan loop, en ook onderling verbind is. Japan het egter sedert die ontploffing byna geen aardbewings gehad nie, en geen sterk aardbewings nie. Trouens, dit lyk na ’n effens ongewone stilte.

Waarna dalk met meer erns gekyk kan word, is die byna volkome afwesigheid van sterk, en selfs minder sterk aardbewings op aarde tot dusver vanjaar. Die Mexikaanse aardbewing was nie net die sterkste in sowat ’n eeu in Mexiko nie, maar was maar die vierde aardbewing vanjaar wat sterker as M7 gemeet het. Gewoonlik vind daar so in die orde van 20 sulke aardbewings per jaar op aarde plaas. Dit was ook die eerste aardbewing van sterker as agt sedert 2015.

Beteken dit dat die aarde se verskuiwingsvlakke sedert die begin van vanjaar relatief min energie vrygestel het en dat dit intussen al sterker aan die opbou was? Het die Mexikaanse aardbewing nou ’n proses begin waardeur ’n rits baie sterk aardbewings tot die einde van die jaar verwag kan word?

Ons weet nie want bronne dui aan dat dit steeds fiksie is dat enigeen aardbewings kan voorspel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.