MH17 van buite vol gate geruk

Argieffoto

Argieffoto

Vlug MH17 van Malaysia Airlines wat vroeër vanjaar oor die rebellebeheerde dele van Oos-Oekraïne neergestort het, is vermoedelik van buite die romp deur soveel voorwerpe vol gate geruk dat dit moontlik in die lug uitmekaar geruk is.

Só lui die eerste verslag van Nederlandse Onderzoeksraad voor Veiligheid (OVV), wat die internasionale ondersoek na die voorval lei.

Om vas te stel of die voorwerpe van buite die gevolg van ‘n projektiel is wat ontplof het, moet nog ondersoeke gedoen word.

‘n Interessante aspek van die verslag is dat positief bevind is dat daar geen ander vliegtuig in die omgewing van MH17 was nie. Hierdeur word Rusland se weergawe dat die vliegtuig deur ‘n vegvliegtuig van Oekraïne gevolg en neergeskiet is, verwerp.

Die finale verslag word sowat ‘n jaar na die ramp verwag.

Intussen is ‘n BBC-verslag bekend gemaak waarin verskeie onafhanlike getuies vertel hoe Russiese soldate self ‘n Buk-missiellanseerstelsel kort voor die voorval in Oos-Oekraïne hanteer het. Een van die Russe het glo ‘n Moskouse aksent gehad.

Die Europese Unie het ook nuwe, verskerpte sanksies teen Rusland aangekondig wat oor ‘n paar dae in werking tree, berig De Standaard.

Trouw se berig oor die OVV-verslag kan hier gelees word.

De Standaard se berig hieroor kan hier gelees word.

Die vliegtuig met 298 mense aan boord was op 17 Julie van Amsterdam na Kuala Lumpur onderweg toe dit naby die Russiese grens in Oekraïne neergestort het. Meeste van die passasiers was van Nederland, Maleisië en Australië afkomstig.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.