MH17-rampslagoffers se oorskot op pad na Nederland

Daar is na raming sowat 200 liggame op die verkoelingstrein wat liggame Maandagnag van die ramptoneel na die stad Charkov geneem het. Foto: aljazeera.com

Daar is na raming sowat 200 liggame op die verkoelingstrein wat liggame Maandagnag van die ramptoneel na die stad Charkov geneem het. Foto: aljazeera.com

Die eerste vlug met liggame van die Maleisiese passasiersvliegtuig wat oor Oekraïne afgeskiet is, word reeds Woensdag in Nederland verwag.

Nederland se premier, Mark Rutte wat ten nouste met die reëlings betrokke is, het pas tydens ‘n mediakonferensie gesê die liggame sal na hul aankoms by die lughawe in Eindhoven na die Oudheusdenkazerne in Hilversum geneem word. Sodra ‘n liggaam geïdentifiseer is, sal die naasbestaandes in kennis gestel word. Hierdie proses kan maande duur.

Daar is na raming sowat 200 liggame op die verkoelingstrein wat liggame Maandagnag van die ramptoneel na die stad Charkov geneem het. Volgens Rutte is die swartbokse van die rampvlug ook op die trein. Vroeër is berig dat dit aan ‘n afvaardiging van Maleisië oorhandig is.

Nederland het nou amptelik die rol gekry om aan die hoof te staan van die ondersoek na die ramp.

Altesaam 193 van die 295 mense aan boord van die gedoemde vliegtuig was Nederlanders.

Die liggame en stukke liggaamsdele is saam met wrakstukke oor ‘n groot oppervlak versprei. Dit word bedags ongeveer 30 grade Celsius in die gebied, en dit is baie belangrik om alle liggame en liggaamsdele so gou as moontlik in verkoelde geriewe te kry.

Intussen duur die gestry voort oor wie vir die aanval verantwoordelik was. Foto’s van die brokstukke wys egter volgens kenners duidelik dat ‘n missiel oor die vlerk gekom, en langs die stuurkajuit ontplof het. Die skrapnel sou die vlieënier eerste getref het.

Rusland sê egter satellietbeelde toon geen teken van ‘n naderende missiel nie. Die VSA, wat gevorderde spioenasiesatelliete oor die gebied het, het egter dadelik die pro-Russiese rebelle blameer. Dié satelliete en ander toerusting in die omgewing kan ‘n missiel volg van dit afgevuur is tot dit die teiken tref. Selfs al word dit eers in vlug weens bepaalde radarseine opgespoor, kan die plek van herkoms teruggespoor word.

Dit lyk onafwendbaar dat internasionale sanksies teen Rusland verskerp kan word. Pres. Waldimir Poetin se regering word daarvan beskuldig dat dit tydens vredesamesprekings beloof om druk op die rebelle uit te oefen om tot ‘n vreedsame skikking te kom, maar in die praktyk die rebelle met wapens, opleiding en selfs mannekrag ondersteun. ‘n Nuwe hipotese is dat die Russiese hulp aan die rebelle buite Poetin en sy regering se beheer ontaard het, en dat dit ongeag die regering se standpunt verskerp word.

Bronne: Trouw, De Standaard, Los Angeles Times.3

Lees ook:
Maleisië eis dat MH17-ongelukstoneel beskerm word
Gesin uitgewis in MH17-vlugramp
Egpaar verloor familie in albei MH-vlugrampe
SA man was op vlug MH17
Vlug MH17 is neergeskiet, sê VSA intelligensie
Video: Malaysia Airlines-vliegtuig stort neer in Oekraïne

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.