Miami-gebou: Soektog na oorlewendes afgelas

‘n Reddingswerker omhels ‘n familielid van een van die slagoffers van die ineengestorte Champlain Towers South-woonstelblok in Florida. (Foto: CHANDAN KHANNA / AFP)

Amerikaanse reddingswerkers het nou amptelik hul soektog na enige moontlike oorlewendes in die puin van die ineengestorte Champlain Towers South-woonstelblok in Florida afgelas.

Die betrokke soek-en-reddingspanne het om middernag oorgeskakel na ’n herwinningspoging om oorskot in die puin te herwin.

Daniella Levine Cava, burgemeester van Miami-Dade, het Woensdag gesê dit was ’n “uiters moeilike” besluit om te neem.

“Ons het in hierdie stadium regtig elke beskikbare opsie uitgeput.”

Volgens Levine Cava is nog agt liggame in die puin van die ineengestorte woonstelblok in Surfside naby Miami gevind.

Dit bring die dodetal op 54 te staan ​​terwyl 86 mense nog vermis word.

Reddingswerkers het die afgelope twee weke onverpoos na enige moontlike oorlewendes gesoek nadat die woonstelgebou op 24 Junie 2021 ineengestort het.

Kommer oor die reddingspoging het die afgelope paar dae ontstaan met tropiese storm Elsa wat op Florida afgestuur het.

Elsa het Florida Woensdag getref en wind van sowat 85 km per uur asook reën meegebring. Die storm het egter in sterkte afgeneem, namate dit die binneland in beweeg.

Die Amerikaanse nasionale orkaansentrum het gesê die middelpunt van die storm, wat oornag van ’n kategorie 1-orkaan weer na ’n tropiese storm afgegradeer is, het in die Taylor-distrik langs die Golfkus van Noord-Florida getref.

“Daar word voortgesette verswakking [vandag] verwag namate Elsa op ’n noordelike baan oor land beweeg,” voorspel die orkaansentrum.

Maroela Media het vroeër berig Elsa het reeds die naweek verwoesting in die Karibiese Eilande gesaai en die lewe van minstens drie mense geëis.

Meer as 100 000 mense in die kus- of laagliggende gebiede van Kuba moes hul huise ontruim toe Elsa Maandag dié eiland getref het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

2 Kommentare

jongste oudste gewildste
Toy

Dit is hartseer.

Maggies

Daar kan nie ‘n erger gevoel wees om soos daardie burgemeester ‘n besluit te móét neem om nie meer na oorlewendes te soek nie. My simpatieke hart en gebede reik uit na die naasbestaandes.