Miami Grand Prix maak F1-debuut in 2022

Mercedes se Britse renjaer Lewis Hamilton tydens die eerste oefensessie by die Autodrome Nazionale-baan in Monza (10 September 2021) (Foto: Andrej Isakovic/AFP)

Die eerste Formule 1 Grand Prix in Miami sal op 8 Mei 2022 plaasvind, het organiseerders Donderdag in ʼn verklaring gesê.

Die wedren sal by die Miami Gardens plaasvind, sowat 30 km noord van die ikoniese Miami-strand.

Die baan word om die Hard Rock-stadion, tuiste van die Miami Dolphins en hoofbaan van die Miami Ope-tennistoernooi, gebou. Tom Garfinkel, uitvoerende hoof van die Miami Dolphins, is die promotor van die Grand Prix.

“Die baan word gebou volgens verwagtinge en nou dat ons ʼn datum met Formule 1 bevestig het, kan ons binnekort meer besonderhede bekendmaak van dit wat op die baan beskikbaar gaan wees,” het Richard Cregan, uitvoernede hoof van die Grand Prix, gesê. “Ons sien uit daarna om ʼn hele nuwe wêreldwye sportgeleentheid te vier.”

Die VSA hou al sedert 2012 ʼn Grand Prix in Austin, Texas, maar F1 sien uit daarna om ʼn groter vastrapplek te kry in die land van IndyCar en Nascar.

Hard Rock-stadion (Foto; CBP Photography via Wikimedia Commons)

Die Miami GP sal die eerste wedren in Florida wees sedert die inwydingswedren by Sebring Internasionale Renbaan in 1959 toe Jack Brabham sowat 400 m van die eindstreep sonder brandstof gaan staan het. Hy moes sy motor oor die streep stoot om die wêreldkampioenskap te wen.

Miami word die 11de Amerikaanse F1-perseel ná Sebring (ook in Florida), Riverside in Los Angeles, Watkins Glen in New York-staat, Long Beach in Kalifornië, Las Vegas, Detroit, Dallas, Phoenix, Indianapolis en Austin.

Die voorlopige 2022-kalender bevat ʼn rekord van 23 wedrenne, alhoewel dit nog eers deur die Wêreld-motorsportraad op 15 Oktober bekragtig moet word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.