Michael Jackson se Neverland aan miljardêr verkoop

Lugfoto van die treinstasie op Neverland Ranch (Foto: John Wiley via Wikimedia Commons)

Michael Jackson se voormalige Neverland Ranch in Kalifornië is aan die Amerikaanse miljardêr Ron Burkle verkoop, het sy woordvoerder Donderdag gesê. Hy het dit glo teen ʼn “groot winskoop” van sowat $22 miljoen (sowat R321 miljoen) aangeskaf.

Die Amerikaanse sanger het Neverland in ʼn ontspanningsoord met ʼn feëverhaal-tema omskep – met ʼn speelgoedtreinspoor, Ferriswiel en orangoetangs. Van sy toptreffers is ook op dié landgoed geskryf.

Neverland was egter ook berug daarvoor dat Jackson kinders genooi het om by hom te kom kuier en oor te slaap en hy is daarvan beskuldig dat hy met jong seuns gelol het. Dit is ná Jackson se afsterwe in 2009 hernoem na Sycamore Valley Ranch.

Burkle, ʼn sakeman van Montana met beleggings in supermarkte en die vermaaklikheidsbedryf, het die landgoed as “ʼn grondbeleggingsgeleentheid” aangeskaf, het sy woordvoerder aan AFP gesê.

Die bedrag van $22 miljoen, soos berig deur die Wall Street Journal, en aan AFP bevestig as “rofweg akkuraat” deur ʼn bron wat vertroud is met die ooreenkoms, is ʼn groot vermindering van die verkoopprys van $100 miljoen in 2015. Eiendomsagente het in daardie stadium die bedrag as “optimisties” beskryf en is verlede jaar tot $31 miljoen verminder. Die landgoed het egter steeds nie verkoop nie en is van die mark verwyder.

Lugfoto van die hoof- karnavalgedeelte van Neverland Ranch (Foto: John Wiley via Wikimedia Commons)

Burkle het onlangs oor die gebied gevlieg om na ʼn naburige eiendom te kyk as ʼn moontlike nuwe tak vir sy Soho House- privaat klubnetwerk, toe hy die landgoed opgemerk en met die eienaar kontak gemaak het.

Jackson het in die 1980’s na bewering sowat $19,5 miljoen vir die eiendom betaal.

Thomas Barrack Jr se Colony Capital-beleggingsfirma het die eiendom ʼn jaar voor die Jackson se afsterwe vir $22,5 miljoen oorgekoop. Die sanger was in daardie stadium diep in die skuld.

Burkle het vroeër as ʼn raadgewer vir Jackson gewerk, insluitend om sy skuldlas, weens sy luukse leefstyl, te probeer delg.

Die 1 100 hektaar landgoed, sowat 65 km van Santa Barbara, het ʼn huis met ses slaapkamers, drie gastehuise, ʼn meer met ʼn waterval, tennisbane, verskeie skure en diereskuilingsfasiliteite.

Daar is in 2003 ʼn klopjag uitgevoer op Jackson se eiendom as deel van ʼn saak van kindermolestering. Polisiebeamptes het beslag gelê op ʼn groot versameling pornografie, insluitend foto’s van naakte kinders. Hy is in 2005 vrygespreek.

ʼn HBO-dokumentêr, Leaving Neverland, het getuienisse bevat van twee mans wat aanvoer Jackson het hulle as kinders oral op die landgoed gemolesteer, insluitend in die solder, die hoofslaapkamer en in die swembad. Die Jackson-boedel dagvaar HBO vir $100 miljoen oor ʼn “postume karaktermoord” en ontken alle bewerings.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.