Michael Schumacher ‘sukkel om te kommunikeer’

Michael Schumacher (19 Oktober 2006) (Foto: AP Photo/Daniel Maurer, File)

Die voormalige Ferrari-baas, Jean Todt, het terugvoer gegee oor die toestand van die Formule 1-kampioen Michael Schumacher.

Todt, ʼn naby vriend van Schumacher, was deel van ʼn spesiale herdenking aan sewemalige F1-kampioen by die Goodwood Festival of Speed in West Sussex, Engeland, die afgelope week.

Hy het aan die Daily Express gesê hy is hartseer dat sy vriendskap met Schumacher nooit weer dieselfde sal wees nie. “Daar is net nie meer dieselfde kommunikasie as vantevore nie.”

Bitter min inligting is nog bekend gemaak oor Schumacher se toestand ná hy breinskade opgedoen het tydens ʼn ski-ongeluk in die Franse Alpe op 29 Desember 2013.

“Ek kan net sê dat sy familie goed sorg vir hom en hy hou aan baklei,” het Todt bygevoeg.

Slegs ʼn beperkte getal persone word toegelaat om Schumacher te besoek, weens sy toestand. Schumacher se vrou Corinna besluit wie hom mag sien. Sy vorige Ferrari-spanmaat, Rubens Barrichello, is nie toegelaat om hom te sien nie. “Hulle het net gesê ‘dit sal nie vir jou of vir hom goed wees nie’,” het Barrichello aan die Daily Express gesê.

ʼn Dokumentêr oor Schumacher se lewe word na verwagting aan die einde van hierdie jaar vrygestel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Wielspore ·

Michael was nog altyd ‘n rolmodel, nie net op die baan maar ook met sy lewenswyse. Ongelukke gebeur onbeplan en hoofbeserings is gewoonlik lewensveranderend, vir die familie en vriende naby die beseerde is dit ‘n totaal ander mens indien hy sou herstel na ‘n ernstige hoofbesering.
My broer se seun het so iets oorgekom en die opgewekte aktiewe seun is ou afhandlik van voltydse toesig.

MK ·

Ek het baie respek vir die mense wat Michael se privaatheid so beskerm. Eks seker daar is ander mense wat maar net te gretig sou wees om intieme details aan die ponie pers te verkoop.

Anoniem ·

Bly glo en vertrou, maar die mense wat hom daagliks sien moet net POSITIEF bly !

Sandy ·

Ek was nog altyd ‘n “follower” van sy loopbaan. Om te dink hy het ‘n gevaarlike loopbaan beoefen, met spoed ens, en ‘n ski ongeluk kniehalter hom. Ek hou duimvas dat dit net goed sal gaan met hom. Ek stem saam dat die mense wat hom sien moet gemonitor word. Hy het darem nog sy menswaardigheid, en maak nie saak hoe hy lyk, of hoe hy nou daaraan toe is nie, sy regte en privaatheid moet nog steeds gerespekteer word.

Chris Ws ·

Dis een van die hartseerste gebeurtenisse van hierdie eeu.Michael Schumacher is so gewilde mens wereld wyd omdat hy altyd geglimlag het.Dat hy SO iets moes oorkom . . . . Ek kan net dink hoe traumaties dit vir sy vrou en ander familie moet wees. Om hom so hulpeloos te sien elke dag is nie ‘n grap nie.
My vrou het ‘n breinbesering in ‘n motor ongeluk opgedoen en waar sy gou op die huis se dak geklim het om iets daar te verf ,moet ek haar nou voltyds versorg.Sy raak gereeld erg moedloos as sy iets nie self kan doen nie.

Waghond ·

Hy sal nooit weer dieselfde wees nie. Vir al wat ons weet, word hy aan die lewe gehou. Dis tyd om te laat gaan, want hy gaan ongelukkig nie herstel nie.
Groot Schumacher fan.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.