Michelangelo se pietàs vir eerste keer saam te sien

Michelangelo se “Rondanini”-pietà (links) en die Vatikaanse Pietà (regs) tydens ʼn voorskou van die uitstalling, “The three Michelangelo’s Pietà” by die Museo dell’Opera del Duomo in Florence, Italië (Foto: Vincenzo Pinto/AFP)

Dit word wêreldwyd bewonder as ʼn besonderse uitbeelding van moederlike hartseer, maar Michelangelo se “Pietà” het tot dusver twee ander roerende beelde oor dieselfde onderwerp deur die Renaissance-kunstenaar oorskadu.

Die Museo dell’Opera del Duomo in Florence, Italië, het gevolglik besluit om vir die eerste keer al drie weergawes van Maria wat oor die liggaam van haar seun Jesus treur, saam uit te stal.

Die Toskaanse museum se oorspronklike “Bandini” sal van Donderdag saam met afbeeldings van die Pietà en Rondanini te sien wees – danksy die Vatikaanse museum wat dit uitleen.

Die beelde sal na mekaar toe kyk in ʼn intieme omgewing. Daar is kenmerkende verskille in die drie beelde – wat elkeen die verskillende fases van die lewe van die kunstenaar uitbeeld. Michelangelo is in 1564 in die ouderdom van 88 oorlede.

Timothy Verdon, direkteur van die museum, sê dit is ʼn unieke geleentheid “om Michelangelo se intellektuele volwassewording oor die heilige tema te aanskou”.

Die uitstalling is tot 1 Augustus te sien en “werp lig op die koppeling tussen lewe en kuns in dié godsdienstige beeldhouer, wat vir die grootste deel van sy loopbaan pouse gedien het”.

Die Pietà, wat by die Vatikaan gehou word, is meesterlik uitgevoer toe Michelangelo nog nie 25 jaar oud was nie. Sy medekunstenaars was verstom oor die skoonheid van die maagd in haar gedrapeerde klere.

Die kunstenaar het kritiek verwerp dat sy Maria te jonk was. Volgens hom hou reinheid vroue mooi.

Maria omhels haar 33-jarige seun, wie se vreedsame uitdrukking dit laat blyk of hy net slaap – ʼn teken van die opstanding wat kom.

Michelangelo was self ontevrede met die “Bandini”, sy tweede pietà. Hy het dit met ʼn hamer aangeval en merke op die werk gelaat wat vandag nog te sien is op Jesus se skouer en Maria se hand. Dié weergawe is gemaak toe die 72-jarige kunstenaar aan depressie gely het. Hy was oortuig sy afsterwe is naby. Hy het ʼn armoede-gelofte afgelê en godsdiens die middelpunt van sy lewe gemaak.

Hy het sy eie karaktertrekke en baard gebruik vir die karakter Nikodemus, die dominante karakter vir die “Bandini”, wat Jesus, Maria Magdalena en Maria beskerm.

Die “Rondanini” is ongetwyfeld die mees verrassende werk: dit is baie modern en eenvoudig. Dit is ongeveer 2 meter hoog en die werk is in 1552 begin toe die kunstenaar byna 80 jaar oud was.

Die “Rondanini” is in sy huis in Rome gevind, waar hy tot en met sy afsterwe gewerk het.

Die drie werke saam “wys vir ons die evolusie van Michelangelo se styl oor die 50 jaar van die eerste Pietà tot die ander twee, en veral die drastiese verskil tussen die laaste twee,” voeg Verdon by.

Die laaste pietà lyk of dit nooit afgehandel is nie en dit is baie ver verwyder van die estetiese kanons van die tyd. Kenners beskou dit ook as ʼn boodskap van geloof en die belangrikheid dat mens verby die uiterlike moet kyk na dit wat noodsaaklik is. Die ryk drapering en ondersteunende karakters is nie hier te sien nie.

Maria en haar seun, wie se liggame en gesigte bloot sketse is, is weer alleen verteenwoordig in die uiterste eenvoud wat die geestelike krag van Michelangelo se laaste werk benadruk.

Pietà van Michelangelo (Foto: Juan M Romero, eie werk via Wikimedia Commons)

 

Bandini van Michelangelo (Foto: Onbekende outeur, onbekende bron via Wikimedia Commons)

 

Rondanini van Michelangelo (Foto: Paolo da Reggio, eie werk via Wikimedia Commons)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Jacques ·

Dis vir my interessant hoe verlies aan kognitiewe vermoë en vaardigheid na vore kom in die Rondanini (sy laaste werk). Ek wonder of hy bewus was dat sy vaardighede verskraal het met tyd, en ek wonder hoe hy hierdie stadige agteruitgang verwerk het.

Mens is so weerloos teen oudword…………

Dr Pieter ·

Jacques, jy is seker reg, maar is dit moontlik dat Michaelangelo dit so beplan het en dit ‘n minder geïdealiseerde kunswerk is? Sy styl het heelwat verander oor sy leeftyd. Hierdie Rondanini (moontlik een van drie?) is ook onvoltooid en is baie haastiger as sy ander beelde gedoen. Daar is selfs ‘n veronderstelling dat hierdie Rondanini as sy eie grafsteen bedoel was.
Hoe ookal, wens ek kon die uitstalling bywoon en hulle saam sien. Ek moet ongelukkig tevrede wees met my Vatikaan replika. ☺

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.