Michigan-skoolskieter se ouers in hegtenis

Polisiebeamptes omsingel die gebou in Detroit waar James en Jennifer Crumbley Saterdag in hegtenis geneem is. (Foto: Matthew Hatcher/ Getty Images/AFP)

Die ouers van die 15-jarige seun wat Dinsdag glo vier leerders by ʼn Amerikaanse hoërskool doodgeskiet het met ʼn vuurwapen wat sy pa gekoop het, is Saterdag in hegtenis geneem. Die inhegtenisnemings volg ʼn dag nadat hulle van onopsetlike manslag aangekla is.

Vir ʼn groot deel van Vrydag het niemand geweet waar James en Jennifer Crumbley, ouers van Ethan Crumbley, hulle bevind nie. Die owerhede in Oakland, Michigan, het hulle gevolglik as voortvlugtendes beskou.

Die polisie het hulle vroeër vandag in ʼn nywerheidsgebou in Detroit, sowat 64 km van waar die skietery in Oxford plaasgevind het, opgespoor. Dit is naby die plek waar ʼn voertuig wat vermoedelik aan hulle behoort, vroeër gevind is.

“Ek was verras dat hulle hier is,” het James E White, polisiehoof van Detroit, gesê.

Hy sê een van die ouers was “uiters ontsteld, baie beangs” toe polisiebeamptes hulle opgespoor het.

Die Crumbley-egpaar is Saterdag in verband met die skietery aangekeer. (Foto: Oakland County Sherrif’s Office/AFP)

Die Crumbley-egpaar se regsverteenwoordigers het vroeër gesê die twee het die omgewing vir hul eie veiligheid verlaat en sou na die gebied terugkeer om aangekla te word.

Plaaslike wetstoepassers het egter aan CNN gesê die egpaar het Vrydag $4 000 (sowat R64 500) by ʼn kitsbank naby Oxford getrek, wat die raaisel oor hul verdwyning laat verdiep het. Hulle het ook hul fone afgeskakel.

Karen McDonald, staatsaanklaer, het in ʼn vreemde stap aangekondig dat elk van die ouers op vier aanklagte van onopsetlike manslag sal teregstaan. Volgens McDonald moet die aanklagte die individue wat tot die tragedie bygedra het, ook aanspreeklik hou en ʼn boodskap aan vuurwapeneienaars stuur.

James Crumbley het die 9 mm‑Sig Sauer- semi-outomatiese handwapen wat sy seun gebruik het, vier dae voor die skietery gekoop. Ethan was saam met sy pa toe hy die wapen gekoop het en het ʼn foto daarvan op sosiale media gedeel.

Ethan Crumbley het vier leerders by die Oxford High School in Michigan doodgeskiet. (Foto: Oakland County-polisie/AFP)

Ethan staan as ʼn volwassene tereg op vier aanklagte van moord, ʼn aanklag van terreur, sewe aanklagte van aanranding met die doel om te moor en 12 aanklagte van die besit van ʼn vuurwapen in die uitvoering van ʼn misdaad.

Hy het nie ’n vorige rekord van misdrywe of swak gedrag by die skool of die polisie nie, hoewel hy kort voor die skietery by twee geleenthede na die skoolkantoor ingeroep is.

Die tweede geleentheid was Dinsdag, die dag van die skietery. Sy ouers is ook op dié dag deur die skool ingeroep. Ethan is na die vergadering terug na sy klas. Hy is later ʼn badkamer binne en het uitgekom met ʼn vuurwapen wat hy in sy rugsak versteek het, waarna hy losgebrand het.

Drie slagoffers, Hana St. Juliana (14), Madisyn Baldwin (17) en Tate Myre (16) het op die skoolterrein gesterf, terwyl Justin Shilling (17) later beswyk het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

9 Kommentare

jongste oudste gewildste
Shakespeare

Kaat die Crumbleys “crumble” vir hulle onbesonne daad. Looi hulle want hulle verdien dit.

Jack

America, home of the brave and land of the free? Ons moet net besef dat die hele samelewing in die VSA tans in twee kampe verdeel is en dar albei hierdie kampe mekaar intens haat . Die konserwatiewe kamp wat die voorheen westerse christelike waardestelsel gehandhaaf het gooi wal teen die “progressiewe” kamp wat dit wil vernietig. Kinder word in skole gebreinspoel om die konserwatiwe waardestelsel te verwerp en die “wokist” waardestelsel aan te hang. Dit lei tot erge spanning in staatskole.

annie

‘n Goeie plan om die ouers aan te kla. Dit moet ook hier gedoen word. Ouers kan nie altyd net hul hande in die lug gooi as hul kinders misdrywe pleeg nie ook nie as hul op gevaarlike plekke rondhang en dan aangeval word nie.

Africangrey

Ek hou mos glad nie van die kind se oe nie

madels

Sjoe hierdie seun se oë het geen lewe in nie en hy lyk baie boos. Dis verskriklik wat hy gedoen het. Ek kry die kinders se familie en vriende verskriklik jammer wat hul kinders verloor het. Mag die Here hulle diep vertroos