Michigan-skoolskieter se ouers ook verhoor

Jennifer en James Crumbley. (Foto: Jeff Kowalsky/AFP)

Die ouers van die 15-jarige Ethan Crumbley, wat daarvan beskuldig word dat hy verlede jaar vier leerders by ʼn Amerikaanse hoërskool doodgeskiet het, sal nou teregstaan op strafbare manslag.

Regter Julie Nicholson het Donderdag in ʼn distrikshof in die Amerikaanse deelstaat Michigan gesê sy het genoeg bewyse om James en Jennifer Crumbley te verhoor, berig New York Post.

“Nadat uitgebreide getuienis en bewyse aangehoor is en die bewysstukke hersien is, is dit duidelik dat die dood van die slagoffers vermy kon word as James en Jennifer net die nodige ywer in die sorg van hul seun aan die dag gelê het.”

Vier aanklagte van manslag staar Jennifer en James in die gesig. Hulle het reeds onskuldig op die aanklagte gepleit.

Aanklaers voer aan die ouerpaar het hul seun maklike toegang tot die vuurwapen gegee waarmee die slagoffers geskiet is. Die ouers word ook daarvan beskuldig dat hulle tekens dat Ethan ʼn bedreiging inhou, voor die skietery geïgnoreer het, berig CNN.

Ethan het in November verlede jaar glo vier van sy klasmaats by Oxford High School doodgeskiet met ʼn vuurwapen wat sy pa na bewering gekoop het. Talle ander mense is ook tydens die skietvoorval beseer.

Die seun het hom kort ná die skietery by die polisie aangemeld en sy ouers is sowat ʼn week later ook in hegtenis geneem vir hul beweerde nalatigheid.

Ethan Crumbley. (Foto: David Guralnick/Getty Images/AFP)

In die dae voor die skietery het Ethan glo vreemd opgetree, tot groot bekommernis van ʼn berader by die skool. Ure voor hy glo op sy klasmaats losgebrand het, het die berader Ethan se ouers ingeroep en vir hulle gesê dat hy glo Ethan ʼn bedreiging vir homself inhou en sielkundige hulp nodig het.

“Ek het gesê hy moet so gou moontlik hulp ontvang, verkieslik vandag nog,” het Shawn Hopkins Donderdag getuig.

Hopkins moes egter hoor dat Ethan nie dadelik hulp kon kry nie omdat sy ouers moes teruggaan werk toe.

Hopkins het ook ʼn reeks ander voorvalle beskryf waarin voorbeelde van Ethan se kommerwekkende gedrag aan sy ouers voorgehou is, maar hulle het dit glo bloot afgemaak.

Volgens selfoonboodskappe wat ook aan die hof voorgelê is, het Ethan aan een van sy vriende gesê dat hy sy ouers gevra het om hom na ʼn dokter te neem omdat hy hallusinasies gehad het en stemme gehoor het. Sy ouers het glo die versoek afgelag.

Borgtog van $500 000 (sowat R7,6 miljoen) is aan die Crumbley-egpaar toegestaan, maar hulle is in hierdie stadium steeds agter tralies.

Vier aanklagte van moord is reeds teen Ethan aanhangig gemaak, asook een klag van terrorisme.

Hy het onskuldig gepleit en sy prokureurs beplan om ʼn waansinverweer tydens die verhoor te gebruik. Ethan sal as ʼn volwassene verhoor word.

Ethan se prokureurs het ook vroeër versoek dat die tiener na ʼn jeugsentrum geskuif word aangesien hy tans in isolasie by ʼn volwasse tronk aangehou word.

Aanklaers het egter aangevoer dat hy ʼn bedreiging vir ander jong gevangenes inhou. ʼn Besluit hieroor sal volgende week geneem word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

8 Kommentare

jongste oudste gewildste
Pierre

Die erns van sielkundige probleme, mense is baie keer nie hulself nie en ouers moet ag slaan op noodkrete van kinders

Chantel

As hierdie deurgevolg gaan word, gaan dit ‘n deur oopmaak vir die res van die wêreld om dan ouers ook,aanspreeklik te hou vir die dade van hul kinders. Hierdie is slegs my opinie.
Ek voel net dat die samelewing boeliegedrag nie goedkeur nie, maar daarteen word die boelies in gevalle waar die kind wie geboelie was op die ou end sy / haar eie lewe neem, nie toerekenbaar gehou word nie. Dalk moet ons die aanslag verander en juis die wat boelie verantwoordelik hou. Soos ek sê, slegs my opinie

Misky

Welgedaan aan hul regstelsel. Sy ouers word verantwoordelik gehou en hy as volwassene verhoor. Oud genoeg om te moor, dan moet hy sy pak vat soos ‘n man.

Aai

Mooi vat so.Die ouers het hom aangemoedig en toe hulle hoor hy gaan dit doen toe lag hulle,hulle moet maar vir hulle kry.

Hennie Biebouw

Nou wonder ‘n mens of hierdie tipe verantwoordbaarheid ook voortaan van toepassing gaan wees op ouers van die magdom “inner city” kinders regoor die VSA wat by bendeverwante geweld betrokke is?