Microsoft belê miljarde in ChatGPT-maatskappy

Argieffoto (Foto: StartupStockPhotos/Pixabay)

Microsoft het Maandag gesê hy verleng sy vennootskap met OpenAI, die navorsingslaboratorium en skepper van ChatGPT, ʼn kunsmatige intelligensie (KI)-kletsbot wat grootskaalse vrese laat ontstaan oor kullery by skole en op universiteit.

Satya Nadella, uitvoerende hoof van Microsoft, het in ʼn skrywe gesê die maatskappy het ʼn “veeljarige, multimiljard dollar beleggingsooreenkoms” aangegaan om deurbrake in kunsmatige intelligensie te versnel en dat dit “wyd met die wêreld gedeel sal word”.

OpenAI se ChatGPT het ʼn internetsensasie geword toe dit onverwags in November verlede jaar vrygestel is. Gebruikers kan eksperimenteer met die program se vermoë om binne sekondes opstelle, artikels en gedigte asook rekenaarkode te skryf.

Onderwysers is verontrus oor ChatGPT se vermoëns en dit word reeds by universiteite en skole in New York en Washington DC verbied. Dit het ook verskeie debatte laat ontstaan oor die toekoms van kantoorwerk.

OpenAI, gebaseer in Kalifornië, is ook die skepper van DALL-E, ʼn program wat vinnig digitale foto’s en illustrasies kan skep met ʼn eenvoudige versoek.

Volgens mediaberigte beloop Microsoft se jongste belegging in OpenAI sowat $10 miljard – wat die maatskappy se waarde opstoot na ongeveer $29 miljard.

Die aankondiging kom ʼn week ná Microsoft gesê het hy is van plan om oor die volgende paar weke 10 000 werknemers af te lê en beleggings te herontplooi na nuwe prioriteite soos KI.

Volgens die verklaring deur Microsoft sal die maatskappy OpenAI se modelle ontplooi “oor al sy verbruiker- en ondernemingsprodukte heen”. Dit dui daarop dat Microsoft van voornemens is om die tegnologie agter ChatGPT en DALL-E te ontplooi in sy eie sagtewareprodukte soos die soekenjin Bing en die maatskappy se Office-apps.

“ChatGPT is die mees innoverende KI-tegnologie in die bedryf. Microsoft is duidelik aggressief op dié front en gaan nie agterweë gelaat word in wat moontlik ʼn grensverskuiwende KI-belegging kan wees nie,” sê analis Dan Ives van Wedbush Securities.

OpenAI is in 2015 gestig deur Sam Altman, ʼn 37-jarige entrepreneur. Tesla-hoof Elon Musk was een van die eerste beleggers. Musk het tot 2018 op OpenAI se raad gedien, maar het bedank om eerder op Tesla te fokus.

Die maatskappy maak staat op ʼn span rekenaarwetenskaplikes en navorsers wat gelei word deur Ilya Sutskever, ʼn voormalige Google-werknemer wat spesialiseer in masjienleer. OpenAI het teen 2021 sowat 200 werknemers gehad, aldus ʼn vraag direk aan die kletsbot.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Boatsie ·

Ons het dit gesien met Covid en al die sogenaamde navorsing , verspreiding en onheilighede en hier is die bewys weer.
Waar Bill Gates betrokke is, is dit alewig verkeerde of verkeerde goed wat bevraagteken word.
Kan die man nie liewers die geld gebruik om hongersnood en gesondheidsdienste wereldwyd aan te spreek nie.

Miskruier ·

Die wef stel net belang in hul eie ontwikkeling, alles wat nie daarby inpas nie, word uitgefasseer.

Nommer 7 ·

Boatsie, wie is die “ons”? Niemand in die wereld gee soveel geld vir hongersnood en gesondheidsdienste as Bill en Melinda Gates nie. U het duidelik ‘n wanopvatting van Bill Gates.

Nommer 7 ·

Ek is bevrees, Chatbots (met hul ChatGPT taal) is die begin van groot werksverliese werelwyd. Chatbots gaan eerstens binnekort die “intelligensie” he om alle inbelsentrums te vervang (300,000 word alreeds hiervoor gebruik). Daarna dan sal alle werksgeleenthede waar inligting verskaf word oorgeneem word deur Chatbots, so ook MM se joernaliste, en self prokureurs en onderwysers!

ENFM ·

In 1930 het die ekonoom J M Keynes voorspel dat sy kleinkinders eendag net 15 ure per week sal werk danksy meganisasie en tegnologie. Mense het duidelik gedefinieerde beroepe beoefen, maar al meer ongedefinieerde beroepe het ontstaan soos tegnologie ontwikkel het. David Graeber praat van “betekenislose beroepe”, wat die samelewing skade berokken in terme van werksetiek en eiewaarde. Mense verloorvertroue in mekaar en omdat baie mense nie hul werk doen nie (of eintlik is dit onduidelik wat hulle moet doen), word al hoe meer reëls ingebring – wat op die ou end nie die “skuldiges” hul kant laat bring nie, maar die las op die ander meer maak. Mense voel nutteloos, gefrustreerd en sosiale vaardighede is min. Probleme word nie opgelos nie, maar verwys en niemand neem verantwoordelikheid nie, en so bly almal heeltyd besig met nuttelose take. Frustrasies word uitgehaal op die eerste beste persoon wat op die verkeerde tyd op die verkeerde plek is en als word ervaar as kritiek.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.