Microsoft koop TikTok toe nié

Oracle sal vermoedelik nou TikTok in die VSA koop nadat Microsoft se aanbod ter elfder ure van die hand gewys is.

Die tegnologiereus het Sondag bekend gemaak dat sy aanbod om die uiters gewilde video-app se Amerikaanse belange te koop, van die hand gewys is.

Dít enkele dae voor pres. Donald Trump se sperdatum van 15 September aan die Chinese firma ByteDance om die Chinese kortvorm-video-app se bedrywighede in die VSA te verkoop óf te sluit weens kommer oor spioenasie.

Volgens Microsoft was hy vol vertroue dat sy voorstel vir die oorkoop van TikTok voordelig vir gebruikers sou gewees terwyl nasionale veiligheidsbelange beskerm word.

Die maatskappy het verder gesê hy sou beduidende veranderinge aangebring het om te verseker dat sy diens voldoen het aan die hoogste standaarde vir “veiligheid, privaatheid, aanlynveiligheid en die bestryding van disinformasie”.

Besonderhede rondom die aanbod van Oracle, die maatskappy wat databasistegnologie aan ondernemings verkoop, is in dié stadium duidelik nie.

Maroela Media het vroeër berig die Trump-administrasie is bekommerd dat Beijing die app gebruik om onregmatig op verbruikers te spioeneer. TikTok dring egter daarop aan dat hy nié verbruikersdata met die Chinese regering deel nie en noue bande met die VSA het.

App Annie, die app wat selfoondata monitor, sê TikTok was die gewildste app in die eerste kwartaal van die jaar.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.