Microsoft se medestigter sterf

Paul Allen, eienaar van die Seattle Seahawks, wuif vir die skare voor ‘n wedstryd in Seattle (17 September 2017). Foto: AP Photo/Elaine Thompson

Paul G. Allen, medestigter van Microsoft en dekade lange vriend van Bill Gates, het in die ouderdom van 65 gesterf.

Allen was ʼn miljardêr-filantroop, tegnologie-belegger en eienaar van verskeie professionele sportspanne. Hy is Maandag in Seattle oorlede.

Vroeër vandeesmaand het Allen aangekondig dat die nie-Hodgkin-limfoom waarvoor hy in 2009 behandel is, teruggekeer het en dat hy van plan is om aggressief daarteen te baklei.

Gates het in reaksie op Allen se dood gesê hy is gebroke oor die verlies van een van sy “langste en beste vriende”.

“Persoonlike rekenaars sou nie sonder hom bestaan het nie,” het Gates in ʼn verklaring gesê en bygevoeg Allen se “tweede bydrae” as filantroop was om daarop te fokus om mense se lewe te verbeter en gemeenskappe om Seattle en oor die hele wêreld te versterk.

Bill Gates (links) en Paul Allen tydens ‘n wedstryd tussen die Trail Blazers en Seattle SuperSonics in Seattle (11 Maart 2003). Foto: AP Photo/Elaine Thompson

Allen en Gates het ontmoet toe hulle saam in ʼn private skool in noord-Seattle skoolgegaan het. Die twee vriende het later hul universiteitstudie opgeskop om ʼn byna ondenkbare droom na te jaag – om ʼn wêreld te skep waar daar ʼn rekenaar in elke huis is.

Gates het so sterk in dié droom geglo toe hy sy tasse by Harvard University gepak het, dat hy hom voltyds toegewy het aan sy en Allen se nuwe maatskappy. Allen het die maatskappy Micro-Soft gedoop, ʼn kombinasie van “microprocessors” en “software”. Allen het toe nog twee jaar by Washington State University deurgebring voordat hy ook opgeskop het.

Die twee vriende het hul maatskappy in Albuquerque, New Mexico, op die been gebring en hul eerste produk was ʼn rekenaartaal vir die Altair Hobby-kit persoonlike rekenaar, wat amateurs ʼn basiese manier gegee het om te programmeer en die masjien te gebruik.

Nadat Gates en Allen bietjie sukses behaal het deur hul programmeertaal, MS-Basic, te verkoop het hulle hul besigheid opgepak en in 1979 na Bellevue, Washington, verhuis. Hulle groot deurbraak het kort daarna in 1980 gekom toe IBM Corp. besluit het om in persoonlike rekenaars te belê en Microsoft gevra het om die bedryfstelsel vir dié rekenaars te verskaf.

Paul Allen, eienaar van die Seattle Seahawks, in ‘n suite by die span se stadion in Seattle (17 Julie 2001). Foto: AP Photo/Elaine Thompson

Gates en Allen het $50 000 betaal om ʼn bedryfstelsel, bekend as QDOS, by Tim Paterson te koop. Hulle het hierdie bedryfstelsel verfyn, dit herdoop na DOS (Disk Operating System), en dit het die kern van IBM se persoonlike rekenaars en hul afstammelinge geword, wat Microsoft ʼn topspeler in die tegnologiebedryf gemaak het.

Die eerste weergawes van twee bekende Microsoft-produkte, Microsoft Word en die Windows-bedryfstelsel, is in 1983 bekendgestel. Teen 1991 is Microsoft se bedryfstelsels in 93% van die wêreld se persoonlike rekenaars gebruik.

Vandag is Windows die bedryfstelsel wat op die meeste van die wêreld se lessenaarrekenaars gebruik word en Word is die hoeksteen van die maatskappy se Office-produkte.

Allen is egter weg by die maatskappy net agt jaar nadat dit in 1975 op die been gebring is. Hy het tot in 1983 as Microsoft se uitvoerende visepresident van navorsing en die ontwikkeling van nuwe produkte gedien, waarna hy bedank het toe hy met kanker gediagnoseer is.

Paul Allen sluit by die orkes aan op elektriese kitaar tydens ‘n verkiesing-vieringspartytjie op 18 Junie 1997 in die vroeë oggendure in Seattle. Foto: AP Photo/Elaine Thompson

Sedertdien het Allen meer as $2 miljard aan verskeie sake geskenk, waaronder oseaanbewaring, haweloosheid, en die bevordering van wetenskaplike navorsing. In 1986 het hy saam met sy suster, Jody Allen, die maatskappy Vulcan op die been gebring, ʼn beleggingsmaatskappy wat sake- en filantropiese projekte bestuur.

“Miljoene mense is aangeraak deur sy vrygewigheid, sy toewyding aan die najaag van ʼn beter wêreld, sy dryfkrag om soveel moontlik te bereik met die tyd wat hy gehad het en die hulpbronne tot sy beskikking,” het Bill Hilf, uitvoerende hoof van Vulcan, in reaksie op Allen se afsterwe gesê.

Jody het ook hulde aan haar broer gebring. “My broer was ʼn merkwaardige individu op elke vlak. Paul se familie en vriende was geseënd om sy skerpsinnigheid, sy warmte, sy vrygewigheid en sy omgeehart te kon ken.”

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Sê net ·

Dankie Paul. Jy het vir duisende Nerds soos ek ‘n droom gegee. Sonder jou sou ons waarskynlik nog steeds met boeke moes werk. Baie van ons se inkomste is afhanklik van jou ontwerpe en produkte.

Cherokee ·

Wanneer in Durban, Paul Allen se weelderige boot Octopus, meer as 26m lank, byna 6m breed en sowat 10 ton, anker gewoonlik so paar 100 tree agter ons woonstel. Ek neig te dink dit is verkoop.
Bill Gates sê persoonlike rekenaars nie sonder Paul Allen sou bestaan nie. Miskien was Chris Barnard meer realisties toe hy gesê het as hy nie die eerste hart oorplanting gedoen het nie, sou iemand anders dit gedoen het.

Casper Labuschagne ·

@Cherokee, Persoonlike rekenaars het al vir etlike jare bestaan voor die aanvang van Microsoft. Nog voor Apple se Apple II was daar die CP/M bedryfstelsel vir verskeie soorte mikrorekenaars en in 1974 was daar al die Altair 8800 wat op die 8080 mikroverwerker gevestig was. Die eintlike vraag om te vra is hoeveel vinniger sou vordering dalk gewees het sonder die knellende monopolie van Microsoft?

Cherokee ·

En ek stem met jou saam, Casper. Die monopolie was dalk ‘n remskoen.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.