Miljoen betoog in Frankryk oor pensioenplanne

Betogers in Toulouse, in die suidweste van Frankryk (7 Maart 2023) (Foto: Lionel Bonaventure/AFP)

Brandstofaflewering en spoorwegverkeer is Woensdag vir ʼn tweede dag ontwrig nadat meer as ʼn miljoen mense teen omstrede pensioenhervorming in Frankryk betoog het.

Pres. Emmanuel Macron en sy regering wil die aftreeouderdom van 62 na 64 verhoog en vereistes vir ʼn volle pensioen aanpas. Hulle sê dit is nodig om seker te maak die stelsel beland nie in die rooi nie.

Frankryk se Europese bure het reeds die aftreeouderdom na 65 en hoër aangepas weens langer lewensverwagting.

Die veranderinge het egter sedert die middel van Januarie reeds tot groot weerstand in die parlement en op straat gelei. Die opposisie en vakbonde voer aan die veranderinge is onregverdig, veral vir vroue en laaggeskoolde werkers wat al op ʼn jong ouderdom met hul loopbane begin.

Vakbonde het Dinsdagaand ʼn dringende vergadering met die president versoek ná stakings die land ontwrig het toe 1,28 miljoen mense die strate ingevaar het, volgens amptelike syfers.

Die presidensie het egter nog nie direk op die versoek reageer nie.

Die vakbonde het nog ʼn rits betogings vir Saterdag aangekondig en sommige het laat weet dat hulle staking onbepaald sal voortduur.

Eric Sellini, nasionale koördineerder van die CGT-vakbondfederasie by energiereus TotalEnergies, sê werkers by meeste brandstofverskepingspersele het Woensdagoggend weer gestaak.

Die FO-vakbond by dieselfde maatskappy sê die optrede is nodig “om ekstra druk op die regering te plaas”.

Vervaardiging het skynbaar egter nie by raffinaderye opgehou nie, en TotalEnergies sê sy vulstasies het voldoende voorraad.

In die vervoerbedryf het die nasionale spoorwegoperateur SNCF gesê meer as die helfte van die hoëspoedtreine is gekanselleer, met slegs een trein uit elke 10 wat tussen provinsies beskikbaar is.

Internasionale reise word ook deur die betogings geraak met slegs drie uit elke vier Eurostar-treine wat bedryf word.

Regeringswoordvoerder Olivier Veran sê beamptes bly oop vir gesprekke soos wat die wetsontwerp deur die parlement vorder. “Die regering se deur is meer as oop,” het Veran aan die RTL-radiostasie gesê. “Ons respekteer egter die instansies. Die regering en eerste minister lei die wetsontwerp deur die parlement.”

Die pensioenhervorming word tans in die senaat gedebatteer, met ʼn stem deur albei huise van die parlement wat teen die middel van die maand of op die laatste teen 26 Maart verwag word.

Woensdag se betogings is van die grootste in dekades en effe groter as die vorige ronde betogings op 31 Januarie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Truman Burbank ·

Hulle moet Suid Afrika toe kom. Jy kan aftree op 60 en n patetiese pensioen kry.

Karel Kobus Kruger ·

Selfs 62 is oud om nog te werk. Middel 50’s is meer my tipe aftree ouderdom.

piper ·

ek word76 jaar en werk nog steeds deeltyds. ek het dit nie nodig nie maar dit hou my besig en my brein wakker

hpven ·

Suid Afrika het elke bevoegde persoon, ongeag hy of sy se ouderdom, wat steeds wil werk nodig.

koos ·

In Kanada betaal die staat jou pensioen. Lekker dink jy? Surprise surprise, die stelsel is bankrot a.g.v. die baie immigrante. En as jy eers permanent residency of citizenship gekry het, kan jy jou ouers en jou vrou haar ouers oorbring en hulle kwalifiseer vir die Old Age Grant. Verder word daar minder kinders gebore, dus is daar minder bydraers tot die pensioenfonds. Derhalwe is hierdie staatsondersteunde Ponzi skema besig om te vou. En ek hoor die aftree ouderdom is na 67 verhoog. Dis reg, oom en/ of tannie, jy mag in jou oudag sonder geld sit want die staat se pensioenfonds is bankrot. Hier in SA moet ons maar self sorg, tensy jy ‘n GEMS is. Persoonlik is ek erg anti-staat want dit word al meer duidelik dat die staat nonsens aanvang, nie net hier by ons nie maar ook in die Eerste Wêreld.

Jenny ·

My ma het verlede jaar op 73 afgetree. Sy kon enigiemand die helfde van haar ouderdom ‘n ding of twee leer oor werketiek en het elke dag meer as 100% gegee by die werk.

JohanR ·

Ek mag verkeerd wees maar in Denemarke, Swede, en Norwie kan jy tot 70 werk. Vir ‘n werknemer is jy dan miskien vissies stadig, maar na al die jare werk die brein nog baie goed.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.