Miljoene bye vergaan weens lugdiens se fout

Argieffoto (Foto: Martin Tajmr/Pixabay)

Tot vyf miljoen heuningbye is uitgewis wat van Kalifornië na Alaska vervoer is. Die lugvervoer is vertraag en die houer waarin hulle vervoer is, is buite in die hitte gelos.

Byeboer Sarah McElrea, eienaar van Sarahs Alaska Honey, het die heuningbye van ʼn verspreider in Kalifornië bestel om appelboorde in Alaska te bestuif, omdat hulle nie inheems is tot die streek nie.

Sy het vantevore sonder probleme bye na Alaska vervoer, maar tydens dié reis is die eerste deel van die reis, van Sacramento na Anchorage, na Atlanta herlei omdat die 200 kratte nie op die eerste vliegtuig ingepas het nie.

Toe die vliegtuig in Atlanta land, was daar nie onmiddellike opsies om die groot hoeveelheid kratte in Anchorage te kry nie en die houer is in ʼn stoorplek by Delta Airlines geplaas terwyl roetes uitgewerk kon word.

In die stoor, waar die temperatuur beheer word, het sommige van die bye egter ontsnap en Delta-werkers het besluit om die vraghouer met die bye na buite te skuif sodat niemand gesteek word nie.

McElrea verduidelik egter dit is feromone uit die kratte wat plaaslike bye in die omgewing gelok het – daarom het die lugdiens aangeneem dat van die bye ontsnap het.

Die houer is daarna vermoedelik onderstebo geskuif en die bye het in hitte van 28 C gestaan. Meeste van die vyf miljoen heuningbye, met ʼn geraamde waarde van $48 000 (ongeveer R756 000), het vergaan.

ʼn Woordvoerder vir Delta sê die voorval is “betreurenswaardig” en die lugdiens het dadelik reageer toe hulle bewus gemaak is van die situasie. “Ons het onmiddellik nuwe maatreëls ingestel om seker te maak dat só iets nie weer in die toekoms gebeur nie,” het die lugdiens in ʼn verklaring gesê.

McElrea was in kontak met plaaslike byeboere in die Atlanta-gebied om na die lughawe te gaan, maar hulle het net die dooie bye aangetref. Die bye het geen kans gestaan nie, want hulle is in die buitelug gelos sonder kos.

“Ek is verslae. Buiten die finansiële impak, het hierdie bye gely en gevrek weens onkunde en onbekwaamheid. My hart is gebreek. Ek weet hierdie dinge gebeur en ek het al gesien hoe dit met ander verskaffers gebeur, maar dit maak dit nie makliker nie.”

Sy sê haar maatskappy sal nou ʼn langtermyn oplossing beraam. “Bye is heeltemal te belangrik dat só iets ooit weer moet gebeur.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

1 Kommentaar

jongste oudste gewildste
Christine

Ek het dit van SA se lugvervoer verwag, nie van die VSA nie. Wys jou…