Miljoene ná babas omgeruil is

Sophie Serrano en haar dogter, Manon

Sophie Serrano en haar dogter, Manon

ʼn Kliniek in die Franse Riviera moet €1.8 miljoen (sowat R23 miljoen) aan twee gesinne uitbetaal nadat twee babas 20 jaar gelede in die hospitaal omgeruil is.

Die gesinne het die kliniek aanvanklik gedagvaar vir €12 miljoen, maar die hof het beslis dat die kliniek €400 000 aan elk van die twee kinders, €300 000 aan elk van die betrokke ouers en €60 000 aan elk van die betrokke broers en susters moet betaal, berig The Local.fr.

Die hof het die saak teen die dokters en verloskundiges van die hand gewys.

Manon Serrano is op 4 Julie 1994 in die kliniek gebore, maar het geelsug gehad en moes in ʼn broeikas lê. Sy is langs ʼn dogtertjie, Mélanie, geplaas wat dieselfde toestand onder lede gehad het. ʼn Verpleegster het later die verkeerde babas aan die ouers oorhandig, volgens ʼn ondersoek wat later gedoen is. Die ma’s het besef iets is verkeerd en mev. Serrano het aan die personeel gesê haar dogter is nou meer blas as vroeër. Die hospitaalpersoneel het dit toegeskryf aan die ligte in die broeikas.

Manon se pa het uiteindelik, toe sy 10 jaar oud was, ʼn vaderskaptoets laat doen en bewys dat hy nie haar pa is nie. Die skok was nog groter toe haar ma ook die moederskaptoets gedop het. Die gesin het bepaal dat hul eie dogter eintlik by ʼn ander gesin, sowat 30 km daarvandaan grootgeword het.

Die twee gesinne het mekaar ontmoet, maar het besluit om nie die dogters met hul biologiese ouer te herenig nie. Hulle het mekaar ook nie baie gesien ná die eerste ontmoeting nie.

Die gesinne het die kliniek gedagvaar, maar die saak is aanvanklik van die hand gewys. Die gesinne het verlede jaar in Desember weer ʼn siviele klag ingedien en dit is in die hof aangehoor.

Bron: TheLocal.fr en The Guardian

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Elfie ·

Ek verstaan net nie – hulle het wel uitgevind dat die babas omgeruil is en mekaar ontmoet, nie die kinders “teruggeruil” nie, so dan was hulle mos soort van tevrede met wat hulle gekry het om dit so te stel! Nou, na 20jaar maak hulle skielik geld uit die “foutjie”. Eienaardig….

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.