Miljoene vir Maradona-trui

Diego Maradona se trui wat hy in die kwarteindstryd van die 1986-Wêreldbekertoernooi gedra het, is vir $9,3 miljoen opgeveil. Foto: Adrian Denis/AFP.

Die trui wat die Argentynse sokkerlegende Diego Maradona in die kwarteindstryd van die 1986-Wêreldbekertoernooi teen Engeland gedra het, is vir miljoene deur Sotheby’s opgeveil.

Sotheby’s, die afslaer wat bekend is vir sy kunsveilings, het ongetwyfeld die boerpot met dié stukkie sportmemorabilia losgeslaan: Die trui is vir $9,3 miljoen (ongeveer R144 miljoen) opgeveil – ʼn nuwe rekord.

“Hierdie geskiedkundige trui is ’n tasbare herinnering aan ’n baie belangrike oomblik, nie net wat sport betref nie, maar ook in die geskiedenis van die 20ste eeu,” het Sotheby’s se Brahm Wachter gesê.

Maradona se omstrede “Hand of God”-doel het destyds gesorg dat Engeland uit die internasionale skouspel geboender is.

Die Argentyn het Steve Hodge se skoppie na die Engelse doelwagter onderskep, maar in plaas daarvan dat hy sy voet of voorkop gebruik het om die verdediging te fnuik, het hy sy vuis ingespan om die agterkant van die doelhok te vind.

Hy het egter ’n rukkie later sy vernuf onderstreep toe hy met ’n briljante poging vorendag gekom het: Van die “Hand of God” na die “Doel van die Eeu” in dieselfde wedstryd.

Maradona is verlede jaar aan ’n hartaanval dood en selfs die suurste Britse joernalis kon nie die briljantheid van sy spel betwis nie.

“Daar is min mense in die wêreld se geskiedenis wat vir soveel verdeeldheid gesorg het as die man wat amper eiehandig die Wêreldbeker gewen het, terwyl hy blatant óp en ván die veld verneuk het. Maar diegene van ons wat bevoorreg genoeg was om Diego Maradona op sy beste te sien, weet dat geen van sy tekortkominge as mens inbreuk op sy briljantheid op die sokkerveld maak nie,” het Mark Irwin in The Sun geskryf.

Maradona het 34 doele in 91 internasionale wedstryde vir Argentinië aangeteken. Aan die klubfront het hy 259 keer die agterkant van die doelhok gevind.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Miskruier ·

Ons is besig om mense as gode te sien en te aanbid. God sal sekerlik dit nie ongestraf laat bly nie.

Hendrik ·

Stem saam . Om so n ophef van die mens in verganklikheid te maak en ook van sy prestasies bevestig in der waarheid diè skreiende armoede en nietigheid van die mens.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.