‘Miljoene vonke’; duisende vlug voor verwoestende brande in Australië

‘n Enorme rookbol hang in die lug bo Gippsland in Australië. Die veldbrande het tot ‘n enorme ontruimingsoperasie gelei en duisende permanente inwoners en toeriste is gedwing om te vlug. (Foto: DELWP Gippsland, AP)

Vlootskepe het honderde mense op strande opgepik en duisende ander is Vrydag [Australiese tyd] gedwing om te vlug nadat voorspelde warm weer en sterk wind gedreig het om Australië se reeds verwoestende veldbrande selfs verder te vererger.

Meer as 200 brande woed en waarskuwings vir uiterste gevaar Saterdag het een van die grootste ontruimings in Australië se geskiedenis tot gevolg. Duisende mense het reeds die hoë risiko kusgebiede verlaat. Dit het tot groot verkeersopeenhopings gelei en brandweerlede het talle konvooie begelei terwyl die vlamme gedreig het om paaie te verswelg.

Victoria se premier, Daniel Andrew, het  die grootste gedeelte van die ooste van die staat tot rampgebied verklaar. Dit stel die regering in staat om opdrag te gee dat dié gebied met tot soveel as 140 000 permanente inwoners en tienduisende meer vakansiegangers ontruim word.

“As jy kan, moet jy die gebied verlaat,” het Andrew gesê.

Duisende hektaar grond het afgebrand. (Foto: Glen Morey/AP)

In Suid-Australië het die staat se brandweerhoof, Mark Jones, gesê die weersomstandighede is ʼn groot bron van kommer omdat talle van die brande nog woed of smeul.

“Die ontbrandingspunte is reeds daar. Daar is miljoene vonke reg om te spat as dit deur die beheerde gebied breek.”

Die vroeë en verwoestende begin van Australië se somerveldbrande het dié seisoen die ergste wat nog aangeteken is, gemaak. Nagenoeg 5 miljoen ha grond het afgebrand, minstens 19 mense is dood en meer as 1 400 huise verwoes.

Die afgelope week is 448 huise aan die suidelike kus van Nieu-Suid-Wallis verwoes en tientalle meer het in Victoria afgebrand. Tien sterftes is die afgelope week in die twee state bevestig en in Victoria sê die owerhede minstens 28 mense word vermis. Brande woed ook in Westelike Australië, Suid-Australië en Tasmanië.

Die HMAS Choules verskyn spookagtig deur die rooknewels. Die vloot help ook om duisende mense na veiligheid te bring. (Foto: Australiese weermag/AP)

Die vloot het honderde mense uit die kusdorp Mallacoota ontruim. Dit is weens die brande al etlike dae lank van die buitewêreld afgesny. Sowat 4 000 inwoners en toeriste het op strande geskuil. Bote het mense na die HMAS Choules geneem sodat hulle na veiligheid gebring kan word.

Choules-bevelvoerder Scott Houlihan het gesê 963 mense is gevra om oor die see na veiligheid geneem te word, terwyl verskeie ander uitgevlieg is.

In Nieu-Suid-Wallis geld ʼn noodtoestand en ʼn algehele brandverbod.

Die adjunkhoof van die landelike brandweerdiens, Rob Rogers, het gesê sterk wind en hoë temperature Saterdag gaan die brandgevaar selfs vererger en het diegene wat in staat is om te vlug, gevra om dit te doen.

“Ons weet mense is effens brandmoeg. Hulle moet die situasie nou al maande lank hanteer. Maar mense moet gefokus bly. Môre is nie die regte dag om jou waaksaamheid te verslap nie. Neem die situasie ernstig op.”

Eerste minister Scott Morrison het Bairnsdale in Victoria besoek en ten minste daar ʼn guller ontvangs gekry as ʼn dag tevore in Nieu-Suid-Wallis.

Inwoners van Cobargo in Nieu-Suid-Wallis het hul woede op die eerste minister, Scott Morrison, uitgehaal en het hom talle beledigings toegesnou. (Skermgreep: AuBC/AP)

Morrison het sy besoek aan die dorp Cobargo vroeër kortgeknip toe inwoners hom verskreeu en platvloerse tekens vir hom gewys het. Hy is ʼn “idioot” genoem en skerp gekritiseer vir die dorp se gebrek aan brandbestrydingstoerusting.

Morrison het Vrydag in ʼn radio-onderhoud gesê hy verstaan mense se woede.

“Mense is kwaad en rou en omgekrap. Of hulle nou kwaad is vir my, of kwaad is oor die situasie, al wat ek weet is dat hulle diep seer het en dit is my werk om een of ander vorm van vertroosting en ondersteuning te bied.”

Rook van die veldbrande het boonop ʼn uitwerking op luggehalte en gedurende die dag lyk die omgewing in gebiede wat die ergste geraak word, dikwels soos nag.

Rook het ook oor die Tasmaniese See na Nieu-Seeland getrek. Die lug daar is dynserig en gletsers is ʼn diep karamelbruin. Die kleurverandering kan moontlik beteken dat meer ys smelt omdat dit nou minder sonlig weerkaats.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.