Miljoenêr-moordenaar sterf

Robert Durst in die hof.  (Foto: Myung J. Chun-Pool/Getty Images/AFP)

Die New Yorkse eiendomsmagnaat en veroordeelde moordenaar Robert Durst is Maandag in die ouderdom van 78 dood.

Durst is aan natuurlike oorsake dood “wat verband hou met die reeks mediese probleme wat sy regspan die afgelope paar jaar herhaaldelik by die hof aangemeld het,” het sy prokureur, Chip Lewis, gesê.

Die eiendomsmagnaat is in Oktober verlede jaar lewenslange tronkstraf opgelê vir die moord op sy beste vriendin, Susan Berman, wat in Desember 2000 by haar huis in Beverly Hills doodgeskiet is.

Hy is ook kort voor sy dood aangekla van die moord op sy vermiste vrou byna 40 jaar gelede.

Maroela Media het vroeër berig Durst het Berman glo geskiet in ʼn poging om haar daarvan te weerhou om hom te inkrimineer in die heropening van die ondersoek na sy vrou, Katie Durst, se verdwyning in 1982. Berman het glo ʼn valse alibi vir Durst verskaf toe Katie verdwyn het.

Durst het gedurende sy verhoor gesê Berman was destyds reeds dood toe hy by haar huis opgedaag het om vir haar te gaan kuier.

Hy het egter later erken dat dit hy was wat ’n anonieme nota aan die polisie gestuur het om hulle van die moord in te lig. Hy het egter volgehou dat dit nie hy was wat Berman vermoor het nie.

Aanklaers het gedurende sy verhoor verlede jaar ook bewysstukke gelewer dat hy in 2001 met opset ʼn buurman in Galveston, Texas, vermoor het, maar dat hy vrygespreek is op aanklag van moord nadat hy getuig het dat hy die man uit selfverdediging geskiet het.

Durst het wel erken dat hy ’n byl en ’n saag gebruik het om die buurman se liggaam in stukke op te kap. Volgens hom het hy dit slegs gedoen omdat hy nie gevoel het dat iemand sy storie van selfverdediging sou glo nie.

’n HBO-dokumentêr genaamd The Jinx, wat oor die moorde handel, het jare later – in 2015 –  weer die aandag op Durst gevestig en eindelik sy moordveroordeling tot gevolg gehad.

Daar kan in die verstommende laaste episode van die reeks gehoor word hoe Durst by homself prewel: “Natuurlik het ek hulle almal doodgemaak” – skynbaar salig onbewus daarvan dat ’n mikrofoon wat hy tydens die opname van daardie episode gedra het, steeds aangeskakel was toe hy badkamer toe is.

Durst is in Maart 2015 in hegtenis geneem vir die moord op Berman – enkele ure voor daardie dramatiese episode uitgesaai is.

Durst is die kleinseun van Joseph Durst, wat die Durst Organisation, een van Manhattan se grootste kommersiële eiendomsfirmas, gestig het. Sy pa, Seymour, het die leisels van die maatskappy oorgeneem en het later beheer aan sy jonger broer, Douglas, oorgegee.

Robert Durst is glo ʼn fortuin van $100 miljoen (sowat R1,4 miljard) werd.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

5 Kommentare

jongste oudste gewildste
ChrisR

Om n film van n moordenaar te maak gee hom eer…..sy naam moet verdwyn…..

Shakespeare

R1.4 miljard !! Shame, en hy kon NIKS saam vat nie.

Anthony

Was baie interressant gewees die dokumenter

Frederik C

Vermiste vrou 40 jaar gelede ?? Hul polisie is nie juis beter as ons s’n nie.