Min ‘groot’ aardbewings

Argieffoto.

Argieffoto.

Terwyl daar elke dag talle aardbewings oor die ganse wêreld voorkom, kan die vraag gevra word hoekom was daar lanklaas nuus oor ’n aardbewing?

Die eenvoudige antwoord is dat daar lanklaas ’n groot aardbewing was.

Om die waarheid te sê, daar was die afgelope maande selfs min aardbewings van meer as 6 op die momentmagnitudeskaal, en die Amerikaanse geologiese opnamesentrum, die USGS, dui vanjaar nog slegs een aardbewing van sterker as M6 op sy lys van beduidende aardbewings aan.

Die laaste aardbewing van M7 of sterker was op 15 November verlede jaar in Indonesië. Die laaste aardbewing van M8 of meer waarvan daar gewoonlik een of twee per jaar voorkom, was op 1 April verlede jaar in Chili.

In geheel was daar verlede jaar “net” 13 aardbewings van M7 of meer, terwyl die “norm” die afgelope aantal jare in die orde van 20 was.

Bou die aardkors dalk nou spanning op vir ’n werklike grote? Die antwoord is nie so maklik nie. Elke dag vind daar talle aardbewings plaas waarvan baie so lig is dat die mens dit nie kan voel nie. Terwyl spanning deurgaans opbou deur onder meer die verskuiwings van tektoniese plate, ontspan dit ook deurgaans weens kleiner aardbewings. Tog is daar plekke waar kenners meen dat die spanning meer opbou as wat dit ontspan, soos by Iquique in Chili waar die groot skudding verlede jaar op 1 April voorgekom het. Hoewel dit deur nog ’n redelike grote gevolg is, meen wetenskaplikes die “agterstand” in ontspanning gaan nog ’n skudding van meer as M8 benodig om te ontspan. Ook in die Karibiese See is ’n groot agterstand (met gepaardgaande groot tsunami-gevaar).

En “die grote” wat Los Angeles of San Francisco “moet” tref? Wetenskaplikes is dit betreklik eens dat die bielie “agter skedule” is. Die San Andreas-verskuiwingsvlak is egter een waar twee plate parallel by mekaar verbyskuif en betreklik min spanning word opgebou – maar ook nie so min dat taamlike groot aardbewings nie kan voorkom nie. Die USGS se nuwe begroting is met $150 miljoen vermeerder teenoor die vorige jaar, en sal nou $1,2 miljard beloop. Dit moet egter in gedagte gehou word dat die USGS hom met ’n wye verskeidenheid wetenskaplike velde, waaronder die impak van klimaatsverandering, besig hou.

Al wat met sekerheid gesê kan word is dat die aarde nog vele bielies gaan beleef. Die huidige “stilte” is ongewoon lank, en intussen beweeg die aarde se plate onverbiddelik voort en bou spanning op.

Hoofbron: USGS

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Wêreldnuus

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae