Min verwag van samesprekings oor Oekraïne

Pres. Wladimir Poetin van Rusland

Pres. Wladimir Poetin van Rusland

Min waarnemers verwag veel van die hoëvlak-samesprekings Dinsdag oor die Oekraïne.

Dit is nietemin ‘n baie belangrike vergadering omdat dit die eerste keer sedert 6 Junie is dat pres. Wladimir Poetin en pres. Petro Porosjenko mekaar in die oë sal kyk. Die samesprekings vind in Minsk, die hoofstad van Wit-Rusland plaas.

Die samesprekings word ook bygewoon deur verteenwoordigers van die Europese Unie en Kazakstan.

Hoewel waarnemers pessimisties is dat die samesprekings tot ‘n skietstilstand in Oos-Oekraïne kan lei, bly dit een van die vernaamste doelwitte.

Hierdie pogings het in die verlede nie veel opgelewer nie omdat Rusland glo nie sy kant gebring het om sy invloed op die rebelle te gebruik om ‘n skietstilstand te bewerkstellig nie.

Rusland is eerder daarvan beskuldig dat dit die konflik laat eskaleer het deur wapens aan die rebelle te verskaf. Oekraïne het ook pas aangekondig dat tien Russiese valskermsoldate aangekeer is. Indien dit korrek sou blyk te wees, is dit die eerste konkrete bewys van formele Russiese betrokkenheid by die opstand.

Porosjenko het pas die parlement ontbind en vervroegde verkiesings uitgeroep. Dit sal op 26 Oktober plaasvind. Hy het aangedui dat die meeste van die huidige verteenwoordigers uit die “diktatoriale era” dateer en vir onderdrukkende wette gestem het.

Bronne: Trouw, De Standaard, BBC News

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.