‘Minirok-koningin’ op 93 oorlede

Mary Quant (Foto: Pierre Verdy/AFP)

Mary Quant, die stylkoningin van Brittanje se Swinging Sixties-modebeweging wat die minirok gewild gemaak het, is Donderdag in die ouderdom van 93 oorlede.

Quant is Donderdag by haar huis in Surrey, Engeland, oorlede.

Die Swinging Sixties, soos die grensverskuiwende sestigerjare bekend was, het die miniromp en kort oefenbroeke vir vroue gewild gemaak.

Quant was ook die skepper van sjoebroeke, die kleefriffeltrui en waterdigte maskara.

Alexandra Shulman, voormalige hoofredakteur van die Britse Vogue, het haar as ʼn “visionêr” beskryf, terwyl Brittanje se V&A-ontwerpmuseum hulde gebring het aan haar “baanbreker-nalatenskap”.

“Dit is onmoontlik om Quant se bydrae tot mode te oorskat,” het die museum op Twitter gesê.

“Sy was ʼn ontwerper wie se toonaangewende werk ons manier van dink én aantrek radikaal verander het,” het prof. Frances Corner van Londen se Goldsmiths-kollege, waar Quant gestudeer het, gesê.

“Hierdie diepgaande invloed het ons van die swart-en-wit wêreld van die 1950’s na die multikleur-briljantheid van die 1960’s en verder geneem.”

‘Immoreel maar tog smaakvol’

Quant het haar eerste boetiek, Bazaar, in 1955 geopen saam met haar man en sakevennoot, Alexander Plunket Greene, wat in 1990 oorlede is.

Geleë in Chelsea, wat die kloppende hart van “Swinging London” sou word, het die winkel klere en bykomstighede verkoop en sy kelderrestaurant het ʼn gewilde bymekaarkomplek vir jong mense en kunstenaars geword.

Die hele Chelsea-distrik het gou bekendes gelok soos die akteurs Brigitte Bardot en Audrey Hepburn én popsterre, onder wie die Beatles en die Rolling Stones.

Quant het soomlyne ver bokant die knie gelig en sodoende kort rokke en rompe met eenvoudige vorms en sterk kleure geskep wat sy beskryf het as “arrogant, aggressief en sexy”.

“Goeie smaak is die dood, vulgariteit is die lewe,” het sy aan The Guardian gesê.

Haar winkelpoppe is in uitdagende uitrustings uitgestal in die vensters wat uitkyk oor die bekende King’s Road, wat ʼn minirok-loopplank geword het en Amerikaanse fotograwe getrek het wat graag “Swinging London” wou vasvang.

“Stadsmanne in hardebolhoede slaan teen ons winkelvensters met hul sambrele en skree ‘immoreel!’ en ‘walglik!’ by die aanskoue van ons minirompe oor spankouse, maar klante het ingestroom om te koop,” onthou sy in haar 1966-boek Quant by Quant.

‘Nogal verregaande’

Die era se mees hoëprofiel-model Lesley Lawson, beter bekend as Twiggy, het die minirok in die buiteland gewild gemaak, en met sake wat gedy, het Quant in 1957 ʼn tweede winkel in Londen geopen.

Sy het geometriese ontwerpe, kolletjies en kontrasterende kleure verken, en met nuwe materiale, waaronder PVC- en rekstowwe, gespeel om ʼn moderne en speelse voorkoms te verkry.

Sy het die Amerikaanse mark in die vroeë 1960’s betree en saam met die afdelingswinkel JC Penney gewerk. Sy het ook die goedkoper Ginger Group-reeks geskep en skoonheidsmiddels op die mark geplaas, al haar ontwerpe met ʼn handelsmerk-madeliefie.

Hoewel haar bloeityd in die 1960’s en 1970’s was, toe sy haar visier op die Japannese mark gerig het, kan Quant se nalatenskap steeds in “straatmode” gesien word, met hoogmodeskeppings teen lae pryse.

Sy het haar grimeermaatskappy in 2000 aan ʼn Japannese groep verkoop en as konsultant aangebly.

Afgesien daarvan om die modetoneel in Amerika te verower, het Quant dit as haar grootste prestasie beskou om in 2015 tot ridder geslaan te word, en koningin Elizabeth II, wat haar ʼn dame gemaak het, “die wysste vrou wat ek nog ooit ontmoet het” genoem.

Op ʼn vraag deur The Guardian in 2016 wat sy sou verander as sy haar lewe kon oorhê, het Quant geantwoord: “Nie veel nie, ek het ʼn heerlike tyd gehad.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

JohanR ·

Dankie Mary Quant. Dit was soe lekker, en nog lekker om ‘n mooi paar bene in ‘n mini te bewonder.

Sandra ·

R I V Mary. Ek wed jou die ooms wat hulle bol hoede en brollies vir die vertoongoed in die vensters geskud het, was die eerstes om skelm te loer na die mini rokke.

Andre ·

Rip. Met vandag se mini rokke weet ek nie of dit n rok of n das is nie

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.