Minister koper van wêreld se duurste skildery

Da Vinci se Salvator Mundi of Verlosser van die wêreld (Foto: AP/Kirsty Wigglesworth)

Christie’s, die veilinghuis wat verlede maand die duurste skildery ter wêreld vir $450,3 miljoen (R6,5 miljard) verkoop het, het die koper se identiteit bekend gemaak.

Christie’s het Vrydag in ʼn verklaring gesê dat die kunswerk, Salvator Mundi of Verlosser van die wêreld, wat Jesus Christus uitbeeld, deur Abu Dhabi se minister van kultuur, dr Awwad Alawwad, gekoop is.

Dit volg nadat die Wall Street Journal en die New York Times die afgelope naweek berig het anonieme bronne het beweer die kunswerk is deur Saoedi-Arabië se kroonprins Mohammed bin Salman gekoop.

Maroela Media het vroeër berig dié kunswerk is die laaste van Leonardo da Vinci se werke wat nog in private besit was. Verlosser van die wêreld was voorheen die eiendom van die Russiese sakeman en versamelaar Dmitri Ribolowlef. Hy het die skildery in 2013 aangekoop vir $127,5 miljoen (sowat R1,8 miljard).

“Ons is verheug om te sien dat hierdie besonderse kunswerk beskikbaar sal wees vir openbare besigtiging by die Louvre Abu Dhabi,” het Christie’s in die verklaring gesê.

Verlosser van die wêreld is ʼn olieverfskildery van Jesus Christus wat van die 1500’s dateer.

Dié skildery is verkoop vir bykans dubbel die prys van die vorige rekord wat as die duurste skildery in die geskiedenis beskryf is. Willem de Kooning se kunswerk Interchange is in September 2015 vir sowat $300 miljoen (R4,2 miljard) verkoop.

Die hoogste prys wat ʼn kunswerk op ʼn veiling behaal het, is Picasso se Vroue van Algiers wat vir $179,4 miljoen (R2,5 miljard) onder die hamer gekom het. Dié skildery is in 2015 ook deur Christie’s opgeveil.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

KLEINTJIE ·

Moet nie ons ministers nog idees gee hoe om geld te verkwis nie.

Nicolaas ·

Ek dink dis ‘n lasterlike uitbeelding; die kristalbal laat my dink dit is hoe die skilder Jesus wou uitbeeld as synde waar hy sy kennis, insig en profesieë vandaan gekry het. Ek is seker iemand kan ‘n beter uitbeelding verf wat ook nie so ‘n belaglike bedrag kos nie

John ·

Alawwareld maar die man het geld. Nogal uit Abu Dhabi,’n Moslem-streek.

Wm ·

Is dit nie vantasties nie dat mense wonder oor ons verlosser nie dit kon net so wel n afbeelding van die duiwel gewees het .

bgj van der westhuizen ·

wel hulle moet die geld wat hulle maak met oil verkope bele in eits wat later as die olie op is kan verkoop word en dit is nie die minister wat aan koop nie dit is die land wat dit aan gekoop het en hulle kan wys wat gekoop is nie soos by ons wat geld uit gaan en niks kan gewys word wat daar mee gedoen is nie

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.