Minnie Muis verruil polkakol-rok vir broekpak

Minnie Muis se blou polkakol-broekpak deur Stella McCartney. (Foto: Twitter)

Die ikoniese Disney-karakter Minnie Muis gaan binnekort haar rooi polkakol-rokkie vir ’n ontwerpersbroekpak verruil.

Die Britse ontwerper Stella McCartney het ’n blou polkakol-broekpak met ’n bypassende haarstrik vir Minnie ontwerp ter viering van Disneyland Parys se 30ste bestaansjaar.

Minnie sal vanaf Maart in dié nuwe uitrusting by Disney se Parys-vermaaklikheidsoord pronk as deel van Women’s History Month.

“Hierdie nuwe aanslag op haar kenmerkende polka‑kolletjies maak Minnie Muis ’n simbool van vooruitgang vir ’n nuwe generasie,” meen McCartney.

Die ikoniese Disney-karakters Minnie Muis en Mickey Muis. (Foto: MIKE CLARKE / AFP)

Nie almal is egter beïndruk met Minnie se nuwe tydelike uitrusting nie.

Die konserwatiewe Amerikaanse kommentator Candace Owens het die uitrusting gekritiseer as ’n poging om Minnie “meer manlik” te maak en beskuldig Disney daarvan dat hulle die “waardes van ons samelewing vernietig”.

Owens het Minnie se uitrustingskeuse grappenderwys vergelyk met dié van die voormalige Amerikaanse minister van buitelandse sake, Hillary Clinton, wat bekend is vir haar voorliefde vir broekpakke.

“Ons sal by haar kantoor inloer en hoor of sy die veranderinge in Parys goedkeur of nie,” het Owens geskerts.

Sommige aanhangers het wel aanlyn daarop gewys dat dit nie die eerste keer is dat Minnie ’n broek dra nie. Die Disney-karakter het in 2019 haar debuut as “Kaptein Minnie” aan boord van ’n Disney-passasierskip in ’n wit matroosbroek gemaak.

 

Kaptein Minnie” aan boord van ’n Disney-passasierskip in ’n wit matroosbroek. (Foto: Eugene Gologursky / Getty Images via AFP)

Bron: BBC, CNN.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Charllas ·

Lyk meer soos slaap-drag…… Sy moet seker iets hê om in te slaap :)

Carolina ·

Hierdie nuwe “cancel culture” het nou so verspot geraak, tot M&M,s dra nie spykerskoene nie maar boots om al die verdwaalde individuen beter te laat voel!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.