Minste geboortes ooit in Japan in 2017

Argieffoto (Foto: Walkerssk, Pixabay)

Die getal geboortes in Japan vanjaar is die minste ooit sedert rekordhouding meer as 100 jaar gelede begin het.

Ongeveer 941 000 babas is in 2017 gebore, het die ministerie van gesondheid Vrydag gesê. Dit is ʼn bewys van ʼn verouderende en krimpende samelewing.

Die getal geboortes is ongeveer 4% laer as verlede jaar en die laagste ooit sedert die regering in 1899 met opnames begin het.

“Dit word toegeskryf aan ʼn afname in die getal vroue in die ouderdomsgroep 25 – 39, die ouderdom wanneer vroue gewoonlik swanger word en geboorte skenk,” het ʼn beampte van die ministerie gesê.

Die getal sterftes sal waarskynlik met 3% styg van die vorige jaar tot 1,34 miljoen. Dit is die hoogste sedert die Tweede Wêreldoorlog en dit lei dus tot ʼn algemene natuurlike afname in die bevolking van 403 000.

Die getalle sluit nie uitlanders in wat in Japan bly en ongeveer 1% van die bevolking uitmaak nie. Japan se bevolking is ongeveer 125 miljoen, uitgesluit uitlanders.

Die regering het al jare lank families probeer aanmoedig om meer kinders te hê, maar die bevolking hou aan met krimp en persone word al hoe ouer. Persone ouer as 65 is 27,2% van die algehele bevolking, die hoogste op rekord, aldus data wat in Julie beskikbaar gemaak is. Persone jonger as 14 is slegs 12,7% van die bevolking.

Japan was lank gekant teen immigrasie, maar die regering wend ʼn groter poging aan om studente en vaardige werknemers van oorsee te verwelkom.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Johann Marx ·

Daar is geen kultuur wat kan voortbestaan met ‘n aanwas van minder as 2,11 kinders per gesin nie……en meesal vir ekonomiese redes. As elke paartjie net een kind het, en elke paartjie se kinders trou en het net een kind, dan het jy 4 keer meer oupas en oumas as kleinkinders…As daar 1 miljoen babas gebore word in 2017, sal daar nie 2 miljoen volwassenes wees om die arbeidsmark te betree in 20 jaar nie. Soos wat ‘n populasie afneem, so verdwyn ‘n kultuur…Binne 20 jaar van nou af sal Europa byvoorbeeld nie meer bestaan soos ons dit nou ken nie, want die populasie aanwas is: Frankryk 1.8, Engeland 1.6, Griekeland 1.3, Duitsland 1.3, Italië 1.2, en Spanje 1.1. Die enigste lande waar die aanwas koers hoër is as 2.11 kinders per gesin…..is lande wat Moslem immigrante aanvaar. Moamar Gadaffi het gesê “Ons sal Europe oorneem sonder om ‘n skoot te skiet”.

Riena ·

Ek stem saam: Moenie pessimisties wees nie. Sien die voordele raak van groter gesinne: Die kinderlaggies en skattige kordaatskappe wanneer hulle klein is, die pragtige ontluiking tydens tienerjare en die kameraadskap as volwassenes. Nie om die land te red nie, maar vir die familie om te geniet en mekaar te ondersteun. Dink net as daar tien, dertig of honderdvoudig by die kersmaal saamtrek … Oupas, oumas, kinders, kleinkinders……heerlik!!
Gaan daarvoor!!

Hris ·

Hoe enige mens nog bevolking aanwas kan aanmoedig in ‘n tyd waar miljoene mense onder die broodlyn lewe gaan my verstand te bowe…. die aarde kan doen met minder mense , punt. Geen rede om soos miere oraloor te wees nie

Basjan ·

Julle is almal verkeerd. Die rede vir die dalende geboortesyfer is omdat daar meer TV’s verkoop is.

Hanna ·

Wens dit wil in Suid-Afrika gebeur, want ons kan lankal nie meer al hierdie toelae-kinders bekostig nie. Dit kan moontlik ons redding wees. Wensdenkery…

LMF ·

Wonder wat is in hul drinkwater of hul tee. Daar moet defnetief van daai tee ingevoer word na afrika toe want hier is geen einde in sig nie

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.