Minstens 100 dood of vermis ná boot omslaan

Argieffoto (Foto: Tracy Angus-Hammond/Pixabay)

Meer as 100 mense is vermoedelik dood of word vermis ná ʼn vaartuig op die Kongorivier omgeslaan het, het provinsiale owerhede in die Demokratiese Republiek van die Kongo Saterdag gesê.

Altesaam 51 liggame is teen Vrydagaand gevind ná die boot Maandagaand omgeslaan het. Minstens 69 persone word steeds vermis, het Nestor Magbado, woordvoerder vir die goewerneur van die noordwestelike provinsie Mongala, aan AFP gesê. Volgens hom is daar 39 oorlewendes.

Die getal vermiste persone is ʼn beraming gebaseer op die kapasiteit van die vaartuig, omdat daar geen manifes was van die passasiers aan boord nie.

Die vaartuig was nege tradisionele houtkano’s wat aanmekaar vasgebind is.

Die ongeluk is vermoedelik veroorsaak deur te veel mense op die vaartuig en slegte weer deurnag, het Magbado bygevoeg.

Die omvang van die ongeluk was nie duidelik nie totdat plaaslike media laat Vrydag daaroor berig het en die voorval Saterdag deur provinsiale owerhede bevestig is.

Magbado sê owerhede in Mongala het Kinshasa in kennis gestel van die voorval nadat dit gebeur het, maar het gewag vir meer inligting oor die getal sterftes.

Die soek- en reddingsoperasie duur voort. Hoop vervaag egter om nog oorlewendes te vind.

Provinsiale owerhede het drie dae van rou aangekondig van Maandag af.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Jack ·

Sonder beheer sal dit maar net gebeur. Geen rouperiode sal dit verander nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.