Minstens 11 dood, 15 vermis ná modderstorting

Chile. Grafika: Google Maps

Minstens 11 mense is dood en 15 word vermis nadat swaar reënval ʼn reusemodderstorting in die suide van Chile veroorsaak het.

Die land se ministerie van binnelandse sake het Sondag gesê 12 mense is ook beseer in die modderstorting in Villa Santa Lucia, ʼn klein dorpie van ongeveer 270 mense wat naby Chaiten, ongeveer 1300 km suid van die hoofstad, geleë is.

Clara Lezcano, die burgemeester van Chaiten, het gesê die modderstorting is veroorsaak deur ʼn rivier wat oorspoel en die wal gebreek het. Mahmoud Aleuy, die subsekretaris van die departement van binnelandse sake, het egter ontken dat die rivier oorspoel het en het gesê die swaar reënval het ʼn modderstorting op ʼn heuwel veroorsaak.

Die modderstorting het 20 huise verwoes en 20 ander beskadig. Inwoners wat dakloos gelaat is, word volgens berigte in ʼn tydelike skuiling gehuisves. Reddingswerkers in die gebied soek tans na oorlewendes en help inwoners wat deur die storting geraak is.

Die Chileense Nasionale Buro vir Nood het die Sernageomin- geologiese diens aangehaal wat glo gesê het die oorspoelings kon veroorsaak geword het deur ʼn groot stuk ys wat van die Yelcho-gletser in die gebied afgebreek het.

Die waarskuwingsvlak in die gebied is na rooi verhoog weens die aanhoudende reën.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.