Minstens 12 sterf tydens gasontploffing in China

Skermgreep uit die video

Minstens 12 mense is dood en byna 140 beseer toe ʼn gaslyn Sondag in die Hubei-provinsie in China ontplof het.

Reddingspogings duur voort, aldus ʼn verklaring deur die rampbestuurburo in Shiyan en dit is nie duidelik hoeveel mense moontlik nog onder puin vasgekeer is nie.

Video’s deur ooggetuies wys hoe verskeie geboue inmekaar tuimel en reddingswerkers oorlewendes op draagbare wegdra.

Die ontploffing het in een van die stad se groentemarkte plaasgevind waar talle inwoners besig was met inkopies of om ontbyt te eet, het ʼn ooggetuie aan die staatsbeheerde Global Times gesê.

“Ek het ʼn luide knal gehoor en dadelik onder die tafel weggekruip – ek het gedink dit is ʼn aardbewing,” het ʼn man, wat ʼn klein restaurant naby die toneel besit, aan die koerant gesê.

Openbare uitsaaier CCTV wys beeldmateriaal van geboue met stukkende ruite en mure wat swart gebrand het.

Die ontploffing het omstreeks 06:30 plaaslike tyd (2230 GMT) plaasgevind en ʼn ondersoek is van stapel gestuur om die oorsaak te bepaal.

Nywerheidsongelukke kom algemeen in China voor weens swak veiligheidstandaarde en korrupsie onder beamptes wat dit moet toepas.

Die ontploffing kom ʼn dag ná agt mense dood is en drie beseer is toe giftige metielformiaat uitgelek het by ʼn chemiese aanleg in die suidwestelike stad, Guiyang.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.