Minstens 14 sterf in vulkaniese uitbarsting

As bedek huise en bome teen die hange van berg Semeru in Lumajang, Indonesië . (Foto: AMAN ROCHMAN / AFP)

Minstens 14 mense is dood en tientalle beseer in ’n vulkaniese uitbarsting in Indonesië vroeër die naweek.

Die uitbarsting van berg Semeru op die eiland Java het inwoners Saterdag onkant betrap. Honderde gesinne is sedertdien in tydelike skuilings gedwing terwyl reddingswerkers Sondag nog inderhaas na enige moontlike oorlewendes gesoek het.

Abdul Muhari, woordvoerder van die nasionale noodlenigingsagentskap, het Sondag gesê die amptelike dodetal staan tans op 14. Twee oorledenes is reeds geïdentifiseer.

Minstens 56 mense onder wie twee swanger vroue is in die uitbarsting beseer. Die meeste van die beseerdes het ernstige brandwonde opgedoen.

Baie van dié wat brandwonde opgedoen het, het die warm modderlawa as oorstromings beskou en het dus in hul dorpies aangebly ná die uitbarsting.

“Hulle het nie tyd gehad om weg te hardloop nie,” het Adi Hendro, woordvoerder van die Lumajang-agentskap vir openbare orde, aan AFP gesê.

“Ons het nie geweet dit is warm modder nie,” sê Bunadi, ’n inwoner van Kampung Renteng, ’n dorpie met sowat 3 000 mense. “Die lug het ewe skielik donker geword namate reën en warm rook gekom het.”

Volgens Muhari is minstens tien vasgekeerde mense uit gebiede rondom Lumajang gered terwyl dorpenaars en reddingswerkers deur die nag gespook het om oorlewendes op te spoor.

Die reddingspogings is egter bemoeilik deur warm as en puin. Ontruimings is Sondag tydelik opgeskort weens aswolke terwyl owerhede nog probeer vasstel waar minstens nege vermiste persone is.

Die land se geologiese agentskap het gesê reën word vir die volgende drie dae voorspel wat reddingswerk nog verder kan belemmer.

Daar bestaan ook ʼn risiko dat die reën as-sediment tot gevolg kan hê wat ʼn nuwe rivier van warm lawa sal laat vorm, het die land se topvulkanoloog wat bekend staan as Surono gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

2 Kommentare

jongste oudste gewildste
annie

In die 14e eeu tydens die Swart Griep-pandemie was daar ook heelparty vulkaniese-uitbarstings waarvan sommiges swael bevat het wat die lug totaal geel verkleur het met die bekende erge stank wat kundiges laat glo het die pandemie is deur die uitbarsting veroorsaak. Kunstenaars uit daardie tyd het die lug in hul kunswerke geel in plaas van blou gekleur waarvan die rede eers later besef is. Besoedeling deur vulkane is baie erger as dié van groot nywerheidswerke.