Minstens 140 dood ná aardbewing op Iran/Irak-grens

Mense staan in ‘n straat in Bagdad ná ‘n aardbewing op die grens tussen Iran en Irak (12 November 2017) Foto: AP Photo/Hadi Mizban

Minstens 140 persone is in Iran dood en 860 beseer toe ʼn aardbewing van 7.3 op die grens tussen Iran en die noorde van Irak plaasgevind het, het beamptes in Iran se Kermanshah-provinsie vroeg Maandagoggend gesê.

Die Bagdad-regering het nog nie enige inligting bekend gemaak oor sterftes of skade in die gebied nie.

Die dodetal sal na verwagting styg, aangesien reddingspogings in die streek eers behoorlik ná sonsopkoms kan begin, het ʼn woordvoerder vir Iran se ministerie van binnelandse sake gesê.

Die aardbewing se episentrum was in ʼn afgeleë bergstreek in Irak, ongeveer 200 km noordoos van Bagdad en 400 km wes van Tehran, aldus die Amerikaanse agentskap vir geologiese opname. Minstens 14 provinsies in Iran is hierdeur geraak.

ʼn Naskok van 4.5 is kort ná die eerste skudding Sondagaand geregistreer en is gevolg deur ná ʼn naskok van 4.7 Maandagoggend vroeg.

Reddingspanne is na Ghasre Shirin gestuur. Dié streek het, volgens staatsmedia in Iran, glo omvattende skade beleef en daar is grootskaalse kragonderbrekings.

Skole in Kermanshah en Ilam is Maandag gesluit weens die aardbewing en noodtoestande is afgekondig in Halabja en Sulaymaniyah, op die grens van Irak.

Volgens ander mediaberigte is die aardbewing ook in Kuwait en dele van Turkye gevoel.

Turkye se ministerie van gesondheid het hulp vir die noorde van Irak aangebied, berig die staatsmedia Anadolu-nuusagentskap.

Die Internasionale Reddingskomitee (IRC) het op Twitter bevestig sy humanitêre span in Irak monitor die aardbewing en is op bystand om te help.

Iran is geleë op talle groot verskuiwingslyne en beleef byna daagliks skuddings. Minstens 26 000 persone is in 2003 dood toe ʼn aardbewing van 6.6 die stad Bam getref het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.