Minstens 15 dood toe skieters op klub toeslaan

Argieffoto

Die dodetal in ʼn skietery Vrydagaand by ʼn ontkleeklub in Salamanca, Meksiko, het tot 15 gestyg.

Nog vyf mense is gewond in die skietery in die La Playa-klub in Salamanca in die deelstaat Guanajuato. Volgens voorlopige inligting het gewapende mans deur die nag die klub binnegestorm en lukraak op mense begin skiet. Ná die aanval het hulle in drie sportnutsvoertuie gevlug.

ʼn Video wat kort na die aanval geneem is, wys hoe talle polisievoertuie en ʼn ambulans voor die gebou staan, met ʼn vrou wat onbeheersd in die agtergrond huil.

Die motief vir die aanval is onduidelik, maar kan moontlik verband hou met dié staat se onderskeie dwelmkartelle en misdaadsindikate se geveg om grondgebiede.

Al Jazeera berig meer as ʼn dekade nadat ʼn militêre poging aangewend is om die dwelmkartelle te beveg – ʼn poging wat gelei het tot van die bloedigste jare in die geskiedenis van Meksiko – sal hierdie jongste voorval nou die regering se vermoë toets om hierdie georganiseerde misdaad hok te slaan.

Salamanca is ook die stad waar die hoofpyplyn van die staat se oliemaatskappy, Petroleos Mexicanos (PEMEX), deurloop en waar brandstofdiewe gereeld toeslaan. Diefstal uit die pyplyn het in die afgelope paar jaar die maatskappy meer as $3 miljard gekos.

Einde Januarie is ʼn fopbom in ʼn motor gevind wat naby ʼn raffinadery geparkeer was. Naby die toneel is kennisgewings gevind waarin pres. Andres Manuel Lopez Obrador gedreig word en gewaarsku word dat hy sy soldate moet onttrek teen die brandstofdiefstalbendes in die gebied.

Salamanca is minder as 100 km van Santa Rosa de Lima, waar owerhede ʼn paar dae gelede ʼn operasie teen Juan Antonio Yepez, ʼn vermeende leier van ʼn brandstofdiefstalkartel, uitgevoer het.

Volgens amptelike data is Guanajuato een van Meksiko se mees gewelddadige gebiede en het dié staat se moordsyfer die afgelope jaar verdubbel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Mariné Lourens ·

Dagsê Joan

Dankie vir jou kommentaar. Meksiko is ʼn wisselvorm. Volgens die Handwoordeboek van die Afrikaanse Taal (HAT) en die Afrikaanse woordelys en spelreëls (AWS) word beide Mexiko en Meksiko in Afrikaans erken.

Groetnis
Mariné
nms Maroela Media

Ivan ·

Ek sien dis nie net in ons land wat die “police tape” onderstebo is nie.

Heksie ·

Wat is nou die verskil, of the “police tape” onderstebo of nie is nie? Wanneer jy daardie “tape” sien, weet jy sekerlik dat die gedeelte binne die geel “police tape” ontoegangbaar is.
Op misdaadtonele is daar nie tyd vir speel nie, om so ‘n toneel te hanteer is nie speletjies nie, maar dit sal jy seker nou nie weet nie.

Heksie ·

Bo, onder of onderstebo, het jy al so misdaadtoneel hanteer?
Daars nie tyd vir speel nie!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.