Minstens 16 dood ná aardbewing in Tanzanië

Skade ná die aardbewing op 10 September 2016 in Tanzanië (Foto: @RedCrossAU, Twitter)

Skade ná die aardbewing op 10 September 2016 in Tanzanië (Foto: @RedCrossAU, Twitter)

Minstens 16 persone is die afgelope naweek dood ná ʼn aardbewing in Tanzanië. Die dodetal het Saterdag van 11 persone tot 16 persone Sondag toegeneem.

Kassim Majaliwa, eerste minister, het Sondag die Kagera-streek besoek om persone te troos en die skade te ondersoek ná ʼn aardbewing wat Saterdag plaasgevind het.

Salum Kijuu, streekskommissaris, het gesê die aardbewing het 5,7 geregistreer. Minstens 840 huise is verwoes en 1 264 huise het groot krake ná die aardbewing op die grens van Uganda en Rwanda. “Meer as 40 regeringsgeboue, insluitend skole, is ook beskadig,” het hy gesê.

Meer as 100 persone word in hospitale behandel vir verskeie beserings.

“Die liggame van die oorledenes is na ʼn stadion in Bukoba gebring vir finale gebede voordat hulle na hul tuisdorpe geneem word om begrawe te word,” het Kijuu bygevoeg. Majaliwa het ook die geleentheid bygewoon.

Kijuu het telefonies aan die Xinhua-nuusagentskap gesê geen uitlanders is in die aardbewing beseer of dood nie. “Al die slagoffers is plaaslike burgers.”

Majaliwa het by die Kaitaba-stadion gesê ʼn span kenners sal die omvang van die skade bereken en terugvoer gee aan die regering oor die bystand wat benodig word. “Die regering sal ook die onkostes dra vir die teraardebestelling van die slagoffers en sal mediese onkostes dek vir die beseerde persone,” het hy gesê.

Volgens Majaliwa sal die regering ook by internasionale meteorologiese organisasies aanklop om te bepaal of ʼn soortgelyke aardbewing weer die gebied in die toekoms kan tref.

Gabriel Mbogoni, ʼn geoloog van Tanzanië, het gesê dié aardbewing is een van die grootstes nog wat ʼn Oos-Afrika-land getref het. Die aardbewing het Tanzanië se noordwestelike streek van Kagera en Mwanza op die oewer van Victoria-meer geskud.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

M ·

Oooooor populasie sal hoer dodetalle veroorsaak in afgelee plekke. Vroue moet gemaan word om NET EEN KIND te he. So red hulle hul eie nasie indien ‘n ramp sou tref.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.