Minstens 16 sterf in nagklub-brand

Livs-nagklub (Foto: Wax Dey/Facebook)

Kameroen se regering het Sondag gesê minstens 16 mense is dood in ʼn brand wat deur vuurwerke in ʼn nagklub in die hoofstad Yaoundé ontstaan het. Die tragedie vind plaas midde die Afrikanasiesbeker-sokkertoernooi wat tans in dié land aangebied word.

“Die aanvanklike berig wys 16 dood en agt ernstig beseer ná die brand Saterdag per ongeluk uitgebreek het,” lui ʼn verklaring deur die ministerie van kommunikasie.

Die hoofvertrek van die Livs-nagklub in die hoofstad se welgestelde Bastos-distrik was gou in vlamme gehul. Verskeie ambassades en diplomaatwonings is in dié distrik geleë.

“Die tragedie is veroorsaak deur ontploffings van vuurwerke wat gereeld in hierdie plekke gebruik word. Die gebou se plafon het gebrand en dit het twee groot ontploffings veroorsaak. Mense was paniekerig en dit het tot ʼn stormloop gelei.”

ʼn Beampte van die brandweer het gesê toe brandbestryders by die toneel opgedaag het, was die mense baie paniekerig. “Die brand het gewoed en daar was baie rook,” het die man, op voorwaarde van anonimiteit, aan AFP gesê. “Daar was minstens 16 mense dood en vyf beseerdes.”

ʼn Veiligheidswag het gesê die brand het “baie vinnig gebeur”. “Dit was kort ná 02:00 en meeste klante daag omstreeks 03:00 op. Daar is baie slagoffers.”

Gebrande voorwerpe buite die klub het dit duidelik gemaak dat daar ʼn brand was, maar die gebou se vooraansig het geen brandskade getoon nie, het ʼn AFP-joernalis gesê.

“Ek het nie enige inligting nie. Ek het vanoggend wakker geword en hulle het gesê my 38-jarige seun is dood,” het een vrou gesê. Sy het net haar naam as Fidele gegee.

“Ek het gisteraand vir my boetie en sy vriende gewag, maar hulle het nooit opgedaag nie,’ het haar dogter Claude bygevoeg. “Teen omstreeks 07:00 het ek baie oproepe ontvang om te hoor of my broer nog lewe en of hy dood is. Ek het na die lykshuis gekom en sy liggaam uitgeken.”

“Ek het my klein boetie verloor,” sê Stephane Hamza (38). “Hy was ʼn goeie, vriendelike seun wat al ongeveer twee maande lank in die klub werk. Toe ek van die ontploffing te hore gekom het, het ek na die lykshuis gekom waar hulle vir my gesê het hy is dood.”

Minstens vyf diskoteke het die afgelope ses jaar in Douala, die ekonomiese hoofstad in die suide van die land, afgebrand in brande wat per ongeluk ontstaan het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Christine ·

Nee, brande ontstaan nie per ongeluk nie. Dis natuurlik onkunde en swak werkmanskap wat die bedrading ‘n gevaar maak, geen kundige inspeksies na die oprigting van geboue nie. Dis Afrika.

E ·

Vuurwerke binne ‘n gebou – ‘n baie dom idee volgens my, verder gaan dit al 6 jaar lank so aan. Leer mense nooit uit ander se foute nie?

Pieter ·

Vuurwerke binneshuis afvuur. Google die wêreld se IK kaart.

Vonkprop ·

Nee mooi man. Hoekom sal ons nou buite toe loop om vuurwerke af te vuur. Ons kan dit mos binne ook doen. Liewe aarde, hoe hard moes dit nie gewees het nie? Ek dink daar nou loop nou ‘n hele paar hardhorende mense in Kameroen rond LOL!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.