Minstens 2 500 by onwettige Nuwejaarspartytjie in Frankryk

Partytjiegangers dans tydens ‘n wilde partytjie in Lieuron, sowat 40 km suid van Rennes (1 Januarie 2021) (Foto: Jean-Francois Monier/AFP)

Sowat 2 500 partytjiegangers het ʼn onwettige Nuwejaarspartytjie in die noordweste van Frankryk bygewoon en met polisiebeamptes gebots wat die byeenkoms wou stopsit. Owerhede het Vrydag gesê daar is kommer dat die onwettige byeenkoms Covid-19 versprei het.

Die partytjiegangers het die onwettige rave in Lieuron, suid van Rennes in Brittany bygewoon. Die partytjie het Donderdagaand begin en Vrydag voortgeduur.

Plaaslike polisiebeamptes wou die byeenkoms voorkom, maar het “uiterste vyandigheid van talle partytjiegangers beleef”. Een van die polisievoertuie is aan die brand gesteek en partytjiegangers het beamptes met bottels en klippe bestook.

Persone wat die geleentheid bygewoon het, is van Frankryk en ander lande afkomstig.

Die musiek kon Vrydagaand nog gehoor word, alhoewel polisiebeamptes gepoog het om te voorkom dat nuwelinge by die rave aansluit, aldus ʼn AFP-fotograaf.

“Polisiebeheer vind rondom die perseel plaas. Verbale waarskuwings is uitgereik aan almal wat die geleentheid verlaat het,” het die polisie op sosiale media gesê.

Camille Chaize, woordvoerder vir die ministerie van binnelandse sake, het gesê daar was “groot vyandigheid, baie geweld” teen die wetstoepassers, sonder om te bevestig wanneer die polisie die perseel sou kon betree.

Massabyeenkomste word streng verbied in Frankryk om die verspreiding van Covid-19 te bekamp. Die Franse regering het Vrydag ook die landswye aandklokreël in 15 streke verleng. Die aandklokreël sal reeds om 18:00 begin, eerder as 20:00. Teaters, flieks en konserte bly tot minstens 7 Januarie gesluit.

Die rave het glo in ʼn leë pakhuis plaasgevind wat aan ʼn verpakkingsmaatskappy behoort.

Staatsaanklaers het met ʼn ondersoek begin oor die onwettige organisasie van die byeenkoms en geweld teen owerhede.

Partytjiegangers, wat met AFP gesels het, het gesê persone van Spanje en Brittanje het ook die byeenkoms bygewoon.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.