Minstens 20 sterf toe stoomketel ontplof

Die brand by die Tampaco Foils-gebou ná 'n stoomketel op 10 September 2016 ontplof het (Foto: @cctvnews, Twitter)

Die brand by die Tampaco Foils-gebou ná ‘n stoomketel op 10 September 2016 ontplof het (Foto: @cctvnews, Twitter)

Minstens 20 werkers is Saterdag in Dhaka, Bangladesj, dood en talle beseer toe ʼn brand by ʼn verpakkingsfabriek uitgebreek het ná ʼn groot stoomketelontploffing.

Mohammad Rafiquzzaman, woordvoerder van die departement van brandweer en siviele verdediging, het gesê die gebou van die Tampaco Foils-fabriek het gedeeltelik ineengestort ná die ontploffing.

Die fabriek is ongeveer 20 km noord van die hoofstad, Dhaka, geleë.

Dr. Parvej van die Tongi- algemene hospitaal het aan verslaggewers gesê 17 liggame is na die lykshuis gebring. Die oorlewendes word by die hospitaal behandel vir verskeie beserings, insluitend brandwonde.

Altesaam 22 werkers wat beserings opgedoen het, is na die Dhaka- mediese kollegehospitaal geneem. Drie van dié persone het in die hospitaal aan hul beserings beswyk, het dr. Partha Sarkar Pal gesê.

Beeldmateriaal wys hoe brandbestryders steeds poog om die vier verdieping gebou te betree. Swart rook het die gebou omhul.

Die brand by die Tampaco Foils-gebou ná 'n stoomketel op 10 September 2016 ontplof het (Foto: @DhakaTribune, Twitter)

Die brand by die Tampaco Foils-gebou ná ‘n stoomketel op 10 September 2016 ontplof het (Foto: @DhakaTribune, Twitter)

Brandbestryders het ses ure ná die ontploffing steeds gespook om die brand onder beheer te bring, het Rafiquzzaman bygevoeg. Hy het gesê chemikalieë wat in die gebou opgebou het, het veroorsaak dat die brand vinniger versprei.

Harun-ar-Rashid, woordvoerder van die polisie, het gesê die dodetal sal na verwagting nog styg.

Tampaco Foils vervaardig verpakking vir tabak en ander gebruikersprodukte. British American Tobacco en Nestle is van die maatskappy se kliënte.

SM Alam, plaaslikeregeringsbeampte, het gesê owerhede ondersoek die voorval. ʼn Komitee moet binne sewe dae terugvoer gee.

Noodlottige ongelukke kom gereeld in klere-, tekstiel- en verpakkingsfabrieke in Bangladesj voor weens regulasies wat nie streng beheer word nie.

Minstens 112 werkers is in 2012 dood tydens ʼn brand by die Tazreen-modefabriek. Meer as 1 100 mense is in 2013 dood en 2 500 beseer toe die Rana Plaza-gebou ineengestort het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.