Minstens 26 dood ná beleg van hotel in Somalië

(Grafika: CIA World Fact Book/Vertaling deur Danielm by die Afrikaanse Wikipedia)

Owerhede in Somalië het Saterdagoggend ʼn deurgnag lange beleg van ʼn hotel in Kismayo, in die suide van die land, tot ʼn einde gebring. Die dodetal staan op 26, wat ʼn bekende Kanadees-Somaliese joernalis en verskeie uitlanders insluit.

Minstens drie Keniane, drie Tanzaniërs, twee Amerikaners, een Kanadees en ʼn Brit is onder die oorledenes, het Ahmed Madobe, president van die Jubbaland-streekstaat, wat Kismayo beheer, gesê. Minstens 56 persone, insluitend twee Chinese, is tydens die aanval beseer.

Vier al-Shabab-lede het die Asasey Hotel Vrydagaand aangeval. Dit het begin met ʼn motorbom wat by die toegangshek ontplof het, gevolg deur ʼn aanval deur gewapende mans wat die hotel bestorm het. Politici en wetmakers is gereeld gaste van dié hotel.

Die aanval het meer as 14 uur lank geduur voor soldate alle aanvallers in die hotel doodgeskiet het, het kol. Abdiqadir Nur, ʼn plaaslike polisiebeampte, aan die Associated Press gesê.

Somalië se Islam-ekstremiste rebelle, al-Shabab, het gesê hulle is verantwoordelik vir die aanval. Al-Shabab, wat met al-Kaïda verbind word, gebruik gereeld motorbomme om teikens binne te dring, soos die hotel in Kismayo.

Die Kanadese verslaggewer, Hodan Nalayeh, en haar man, Farid Jama Suleiman, is in die aanval dood, het Radio Dalsan, ʼn onafhanklike radiostasie wat in Mogadisjoe gebaseer is, aan AP gesê. Nalayeh is in 1976 in Somalië gebore, maar het die meeste van die tyd in Kanada gewoon, eers in Alberta en daarna in Toronto. Sy het Integration TV op die been gebring, ʼn internasionale webgebaseerde videovervaardigingsmaatskappy wat op kykers in Somalië gerig is. Sy was die eerste Somaliese vroulike mediaeienaar in die wêreld.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Hanna Hoekom ·

Ai, alweer daardie “religion of peace” se ondersteuners!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.