Minstens 3 dood in Filippynse aardbewing

Argieffoto: Pixabay

Minstens drie mense is dood en sowat 31 beseer nadat ’n aardbewing van 6,9 Sondag die suide van die Filippyne getref het. Dit is die soveelste aardbewing om dié eilandgroep sedert Oktober vanjaar te tref.

Aljazeerah berig ’n sesjarige kind is dood nadat ’n muur van haar ouerhuis op die eiland van  Mindanao gedurende die aardbewing op haar geval het. Die liggame van nog twee vroue is ook deur die loop van die nag herwin.

Soek-en-reddingspanne spook vanoggend (Maandag) onverpoos om vyf vasgekeerdes uit die puin van ’n drieverdiepinggebou in Padada op Mindanao te red. Dié eiland is sowat 20 km van die jongste aardbewing se episentrum geleë.

Die Buro vir Brandbeskerming het gesê ses mense is reeds uit die Southern Trade-winkelsentrum gered.

Vier dorpe en een stad is vanoggend sonder elektrisiteit gestrand gelaat en skole is gesluit sodat geboue nagegaan kan word.

Die Davao-streek van die Filippyne is die afgelope paar maande deur verskeie aardbewings getref.

Maroela Media het vroeër berig minstens vyf mense is dood nadat ’n aardbewing van 6,5 die suide van die eilandgroep aan die einde van Oktober getref het.

Dit het enkele dae gevolg nadat ’n aardbewing van 6,6 nie ver van Makilala getref het nie. Minstens agt mense is dood en twee vermis ná dié aardbewing. Minstens 395 is beseer en meer as 2 700 huise en geboue waaronder skole en hospitale is beskadig.

Op 16 Oktober het ’n aardbewing van 6,3 die Filippyne geskud en die lewe van sewe mense geëis. Meer as 200 mense is in dié aardbewing beseer.

Die Filippyne is op die geologies aktiewe Pasifiese Ring van Vuur geleë waar aardbewings gereeld voorkom.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.