Minstens 31 mense is dood en ‘n onbekende aantal gewond toe twee voertuie Donderdagoggend tussen klante in ‘n mark in Xinjiang, China, ingery en ontplof het. Volgens ooggetuies is verskeie ontploffings gehoor.
Die jongste aanval het in Ürümqi, die hoofstad van Xinjiang plaasgevind. Die provinsie is die tuiste van die Islamitiese volk, die Oeigoere. Die Oeigoere ervaar die Chinese bewind as verdrukkend, en die inheemse bevolking word ook deur etniese Chinese verdring.
Verskeie aanvalle op Chinese is reeds geloods, waaronder verskeie bomontploffings, mesaanvalle veral op treinstasies en ‘n selfmoord-motorbomaanval op die Tianingplein in Beijing.
In April het verskeie organisasies saamgespan om ‘n internasionale kongres in Duitsland te hou om die lot van die Oeigoere te belig. Die tema van die kongres was: “The Silenced Crimes Against Humanity: Enforced Disappearances, Arbitrary Arrests and Extra-Judicial Killings of Uyghurs in China.”
Meer kan hier gelees word.
Bronne: Trouw, AP, ABC News, UNPO