Minstens 39 persone, waarvan meeste Christene wat Kersfees gevier het, is dood en talle is ongesteld nadat hulle giftige alkohol gedrink het.
Die polisie in Punjab in Pakistan het alle alkoholverkopers in Toba Tek Singh vir ondervraging aangekeer, het Muhammad, Shahbaz, distrikspolisiebeampte, aan dpa gesê.
Die alkohol is tydens feesvieringe in ʼn Christelike gemeenskap gedrink, het Shabaz bygevoeg, maar vyf Moslems is ook van die persone wat gesterf het.
Talle van die slagoffers het van Sondag tot Maandagoggend alkohol gedrink en gedans toe van hulle siek geword en na ʼn hospitaal geneem is. Meer as 150 mense is na klinieke geneem, waarvan dosyne hul bewussyn verloor het.
Altesaam 25 slagoffers is reeds begrawe, het Shabaz bygevoeg.
Hy het gesê die persoon wat die alkohol gereël het, is ook oorlede. Dit bemoeilik dus die polisie se ondersoek om te bepaal waar die alkohol vandaan kom.
Daar is ʼn verbod op alkoholverkope in groot dele van Pakistan. Christene mag egter permitte bekom om alkohol vir persoonlike gebruik te koop.
Usaman Akram Gondal van die Toba Tek Singh-polisie, het gesê daar is gereeld sterftes as gevolg van alkoholgebruik, veral in afgeleë dele, aangesien persone swak gehalte alkohol gebruik.
Aisf Saleemi, ʼn dokter by die distrikshospitaal in Toba Tek Singh, het gesê sy kliniek het meer as 105 pasiënte behandel, waarvan 23 gesterf het.
Talle pasiënte is in ʼn ernstige toestand en hulle is na die groter Allied Hospital Faisalabad geneem, ongeveer 90 km van Toba Tek Singh. Sestien persone het by Faisalabad-hospitaal gesterf en 24 persone is óf in die intensiewesorgeenheid of die algemene saal, het Mustafa Shahzad Mughal, woordvoerder van die hospitaal, gesê.
En dis belangrik hoekom? Soort van jou keuse as jy wil drink…die wat bly ook jou verandwoordelikheid.
Sjoe ?