Minstens vier mense is dood en 15 word vermis toe ʼn Spaanse vistreiler Maandagaand aan Kanada se ooskus gesink het, het die Spaanse ministerie van vervoer gesê.
Reddingswerkers het drie bemanningslede gered en die soektog duur voort in die gebied naby Newfoundland aan Kanada se Atlantiese kus.
“Ons het bevestiging ontvang dat liggame gevind is,” het Maica Larriba, regeringsverteenwoordiger in Pontevedra in die noordwestelike streek Galisië, waar die treiler gebaseer is, aan staatsradio gesê. Die drie oorlewendes is in ʼn lewensreddingsboot gevind. Hulle het simptome van verkluiming getoon.
“Die temperatuur van die water is verskriklik, dis baie koud,” het Larriba bygevoeg.
Reddingsbeamptes het twee leë lewensreddingsbote gevind en is op soek na ʼn vierde.
Kanadese reddingsbeamptes het Dinsdag gesê hulle is egter vol hoop dat nog oorlewendes moontlik gevind sal word. “Die feit dat ons drie oorlewendes in ʼn lewensreddingsboot gevind het, gee vir ons hoop dat ander moontlik ook oorlewingspakke kon aantrek en in ʼn lewensreddingsboot kon kom,” het Brian Owens van Kanada se gesamentlike reddingsentrum aan AFP gesê.
Kanada het ʼn helikopter, weermagvliegtuig, skip van die Kanadese kuswag en verskeie bote ontplooi om aan die soektog, sowat 450 km oos van St John’s, Newfoundland, deel te neem.
“Die weersomstandighede is tans ʼn groot uitdaging,” sê Owens. “Die golwe is ongeveer vier meter hoog en sigbaarheid is omtrent ʼn kwart seemyl.”
Plaaslike media berig 12 van die bemanningslede is Spaanse burgers, agt is van Peru en die res is van Ghana.
Die vissersboot, ʼn treiler wat in 2004 geregistreer is, was gebaseer in die hawe van Marin in Galisië en behoort aan ʼn skeepseienaar Manuel Nores. Die maatskappy, Grupo Nores, gestig in 1950, het agt visserstreilers en sowat 300 werknemers, aldus die webwerf.
Uiters swak vertaalde berig!!
Alle voorspoed met verdere reddingspogings. Die see is niemand se speelmaat nie.