Minstens 4 dood, honderde ontruim tydens brand in hotel

Brand by die Manila Pavilion Hotel and Casino in Manila, Filippyne (18 Maart 2018) Foto: AP Photo/Bullit Marquez

Minstens vier werknemers is dood en meer as 300 gaste ontruim toe ʼn brand Sondag in ʼn hotel- en casinokompleks in die Filippynse hoofstad uitgebreek het.

Die polisie het gesê dit is nog nie duidelik of die brand by die Manila Pavilion Hotel and Casino in die casino of in ʼn deel van die hotel, wat opgeknap word, ontstaan het nie. Die brand het vyf ure later steeds gewoed.

Johnny Yu, hoof van Manila se rampbestuuragentskap, het aan verslaggewers gesê minstens ses persone het rookinaseming opgedoen en is na ʼn hospitaal geneem. Onder die sterfgevalle is twee veiligheidswagte en ʼn rekenkundige beampte.

“Daar is baie erge rook en ʼn sterk wind wat waai,” het Yu verduidelik. “Ons brandbestryders sukkel baie.”

Minstens 19 mense word nog vermis, maar Yu het gesê slegs twee persone, wat die veiligheidskameras beman, is in die hotel vasgekeer. Reddingsbeamptes probeer hulle bereik. Van die gaste moes van die dak met helikopters ontruim word.

Polisiebeamptes en brandbestryders het die gebied om die hotel, in die hartjie van Manila se toeristedistrik, afgesper om dosyne brandweerwaens toegang tot die brand te bied.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.