Minstens 4 dood toe brug ineenstort

Foto: Pedro Portal/Miami Herald via AP

Minstens vier mense is dood toe ʼn voetgangerbrug by die Florida Internasionale Universiteit in Miami ineengestort het.

Die brug wat oor ʼn besige hoofweg geleë is, het Donderdag ineengestort en in die proses agt motors platgedruk. Reddingswerkers het gespook om mense uit die puin te bevry. Nege mense is na hospitale gehaas.

Die brug, wat sowat 950 ton geweeg het, is ontwerp om die universiteitskampus met die nabygeleë stad Sweetwater te verbind en dit sodoende veiliger vir studente te maak om die besige hoofweg oor te steek.

Die oorsaak van die ineenstorting sal ondersoek word. Die brug is Saterdag geïnstalleer onderwyl konstruksiewerkers nog besig was om daaraan te werk. Die universiteit het vroeër in ʼn verklaring gesê die brug “is enig van sy soort” weens die unieke konstruksiemetode.

Dié konstruksiemetode het ten doel om die uitwerking van bouwerk op verkeer te beperk en behels byvoorbeeld dat dele van die brug op ʼn ander perseel gebou en dan geïnstalleer word. Die universiteit het gesê dit was die grootste voetgangerbrug nog wat aan die hand van dié metode opgerig is.

Foto: WTVJ NBC6 via AP

ʼn Student is verlede jaar dood nadat hy deur ʼn motor getref is toe hy die pad oorgesteek het. Die brug sou vroeg in 2019 voltooi gewees het.

“Verlede week het ons die uitbreiding van die brug gevier en nou het ons met ʼn tragedie te doen,” het Orlando Lopez, burgemeester van Sweetwater, gesê.

Munilla Construction Management (MCM), die hoofkonstruksiemaatskappy betrokke by die oprigting van die brug, het in ʼn verklaring gesê hul gedagtes en gebede is by die mense wat deur die tragiese voorval geraak word.

“Ons sal ʼn volle ondersoek van stapel stuur om vas te stel wat presies skeefgeloop het en ons volle samewerking aan ondersoekers gee.” Die ineenstorting van die brug het tydens die universiteit se lang vakansietydperk plaasgevind en nie tydens spitsverkeer nie.

Pres. Donald Trump het gesê hy monitor die verwikkelinge en het reddingswerkers geloof vir hul vinnige reaksie. “Ons bid vir almal wat geraak word.”

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Veronica ·

Dis n tragedie om die minste te sê . . .
My suster en haar Man (du Plessis) is 1998 ook oorlede omdat die brug wat in aanbou was in Bosbokrand waarvan sy deel was in die ontwerp , inmekaar gestort het . . . daars toe 13 mense oorlede daardie dag. Nadat die reeds geboude sementblok slab oorgetrek was het al die werkers bo op brug gestaan en dit het inmekaar geval. . . n mens vergeet nooit

Potties ·

More ek was ook by dooi brug toe hy geval het dis baie lank terug maar dink nog baie aan dooi dag…..

Veronica ·

Potties . . .
Sou graag kontak met jou wou maak indien jy daar was dieselfde dag , het jy hul geken ?
Syt gewerk vir VKE . . .

Lucas Reyneke ·

Ek was ook by daai brug. Net 11 jaar oud. My pa was ‘n diesel werktuigkundige vir die maatskappy wat hom gebou het. “Inyaka Bridge”. Ek onthou dit nog soos gister. Die donker gevoel net na dit gebeur het. As ons in daai deel van die wereld is maak ons altyd ‘n plan om oor die voltooide brug te gaan ry.

Lucas Reyneke ·

Ek was ook daar daardie dag. Net 11 jaar oud. My pa was ‘n diesel werktuigkundige vir Concor. Ek onthou dit nog soos gister, die stilte net na dit gebeur het. As ons in daardie area is maak ons altyd ‘n punt daarvan om oor die nuwe brug te gaan ry.

Koos1 ·

Dit lyk vir my asof die teorie en prakties nie lekker ge”gel” het nie.

Pieter ·

Seker ‘n Suid Afrikaanse BEE ingenieur gekry om die ontwerp te behartig.

Derick ·

Simpatie met die oorledenes se familie …. dit wys jou egter dit gebeir nie net in SA nie

Potties ·

Veronica jy kan kontak met my maak is reg so jy kan seke my info by MM kry.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.