Minstens 46 mense is dood toe ʼn boot vol migrante wat na Europa op pad was naby die kus van Tunisië gesink het.
AP berig talle ander word nog vermis.
Altesaam 68 mense is Saterdagnag uit die Middellandse See gered nadat die boot naby die Kerkennah-eiland gesink het. Daar was glo 180 passasiers aan boord van die vaartuig wat weens ʼn lek gesink het. Van dié wat gered is, is 61 Tunisiërs en sewe van ander lande.
Al Jazeera berig reddingspogings het Sondag voortgegaan en ʼn militêre vliegtuig is ook ingespan om na passasiers te soek. Die Internasionale Organisasie vir Migrasie het aan die nuusagentskap gesê daar is meer as 70 mense wat die voorval oorleef het. Dit is nog nie duidelik presies hoeveel mense vermis word nie.
Reuters berig die reddingsoperasie is laat Sondagaand gestaak, maar het vroeg Maandag weer voortgegaan. ʼn Oorlewende het aan Reuters gesê die kaptein van die boot het die vaartuig verlaat toe dit begin sink omdat hy wou vermy dat hy deur die kuswag in hegtenis geneem word.
Werklose Tunisiërs en inwoners van ander Afrika-lande gebruik gereeld selfgemaakte bote om van Tunisië na Sicilië en Italië te vaar. Tunisië is tans in ʼn diep ekonomiese krisis gewikkel nadat die uitskop van die outokraat Zine al-Abidine Ben Ali in 2011 die land in chaos gedompel het met werkloosheid en inflasie wat skerp gestyg het.
O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.
6 Kommentare
Alles verniet in die RSA. Kan nie verstaan waarom daar nie SUID getrek word.
n ander opskrif kan wees “46 Onwettiges sterf oppad om Onwettig in land te kom”
Dis maklik om mense wat vlug uit vrees vir hul lewens te kriminaliseer of kritiseer vir hulle aksies. Kom ons bid maar dat ons nie binnekort lees van Suid-Afrkaners wat onwetting die land verlaat uit vrees vir hulle lewens nie. Die groter prentjie in Afrika is kommerwekkend.
SA is binnekort in dieselfde bootjie….