Minstens 5 dood, 120 beseer in Iranse aardbewing

Argieffoto: Pixabay

Minstens vyf mense is dood en 120 ander beseer nadat ʼn aardbewing van 5,9 die noordweste van Iran Vrydag in die vroeë oggendure getref het.

Al Jazeera berig die aardbewing het net voor 02:30 die ooste van die provinsie Azerbaidjan sowat 60 km vanaf die stad Hashtrud getref.

Verskeie naskokke het gevolg en agt reddingspanne is ontplooi om beseerdes by te staan, het Mohammad Baqer Honar, hoof van krisisbestuur in die provinsie, gesê.

Daar is aanvanklik berig dat drie klein dorpies in die omgewing waar die aardbewing getref het, heeltemal in puin gelê is.

CNN berig Iran is tussen die geologies aktiewe Arabiese en Eurasiese plate geleë waar aardbewings voorheen gereeld voorgekom het.

In November verlede jaar het ʼn aardbewing ook naby die Iran-Irak-grens getref. Minstens 361 mense het weens dié aardbewing omgekom.

In November 2017 is meer as 400 mense dood en duisende beseer toe ʼn aardbewing van 7,3 ook dié grensgebied getref het.

Die land se dodelikste aardbewing het egter in 2003 plaasgevind toe ʼn aardbewing van 6,6 die suidoostelike stad Bam getref het. Dié aardbewing het sowat 26 000 lewens geëis.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

John ·

… mmmm… en Iran bou atoomfasiliteite in ‘n land wat gereeld onder aardbewings gebuk gaan, om die wèreld ‘n lessie te leer. Hulle moet net oppas dat hulle nie dalk self op hul plek… of uit hul plek… gesit word… deur eie toedoen nie.

Hans ·

Dit is moontlik wat kan kom en Iran op heel gapaate manier tot hul sinne ruk.

Willem ·

Toets mos atoombomme diep ondergronds, nê?! Lekker, man..

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.