Minstens 50 dood in Haiti-ontploffing

Foto bloot ter illustrasie. (Argieffoto)

Minstens 50 mense is Maandagaand dood nadat ʼn tenkwa wat brandstof vervoer in die stad Cap-Haitien, Haiti, ontplof het. Talle is ook beseer en die dodetal sal na verwagting deur die dag styg.

Volgens die adjunkburgemeester van dié stad, Patrick Almonor, het die tenkwa omgeslaan nadat die vragmotorbestuurder beheer daaroor verloor het. Hy wou glo ʼn botsing met ʼn motorfiets vermy het.

Brandstof is oor die pad uitgestort en talle omstanders het gehardloop om hul houers daarmee vol te maak, aangesien Haiti tans ʼn ernstige brandstoftekort het. Dít is glo weens die strawwe greep wat misdaadbendes op die hoofstad Port-au-Prince en sy omliggende gebiede het. Bendes keer glo dat ruolie in die land ingevoer word.

Almonor sê die slagoffers wat rondom die tenkwa gestaan het, het doodgebrand. Dit is tans nog onmoontlik om hulle te identifiseer.

Sowat 20 huise het ook in die gebied rondom die ontploffing aan die brand geslaan.

“Ons kan nog nie besonderhede gee oor die aantal slagoffers in hierdie huise nie.”

ʼn Verpleegster by die nabygeleë Justinien University Hospital het gesê hulle is oorweldig deur die groot aantal pasiënte wat behandeling benodig.

“Ons het nie die vermoë om die mense wat ernstig gebrand het, te behandel nie,” sê sy.

“Ek is bevrees dat ons nie almal sal kan red nie.”

Tydperk van rou

Haiti se eerste minister, Ariel Henry, het intussen aangekondig dat die land in ʼn nasionale routydperk vir die slagoffers sal wees.

“Dit is met groot hartseer dat ek van hierdie voorval te hore gekom het,” sê hy.

“Drie dae van nasionale rou sal deur die hele land ingestel word, ter nagedagtenis aan die slagoffers van hierdie tragedie wat die hele Haiti geruk het.”

Volgens Henry sal veldhospitale vinnig opgerig word om nog slagoffers van die ontploffing te help versorg.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Alfred E Neuman ·

Haiti het die oudste swart regerende demokrasie op die planeet. Dit blyk egter n meulsteen te wees vir dié land, wat deur boewe en bendes beheer word. Die tekens is daar dat dieselfde lot ons gaan geval.

Anton ·

“Onafhanklik” sedert 1804. Net 217 jaar, een van die dae is hulle selfonderhoudend :-)

anniekiewiet ·

Dit moet hartverskeurend wees om só desperaat te wees vir iets. Hoe kry daardie mense troos en vrede na so ‘n ramp?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.