Minstens 50 sterf toe tornado Kentucky tref

Groot skade is aangerig ná ʼn tornado Mayfield, Kentucky, getref het (Foto: Brett Carlsen/Getty Images North America/Getty Images via AFP)

Minstens 50 persone is dood ná ʼn tornado die suidoostelike staat van Kentucky in die VSA getref het. Storms woed voort oor groot dele van die land.

Verskeie gebiede in Kentucky is verwoes met die sterkste tornado wat 200 myl (sowat 320 km) deur die staat getrek het, het goewerneur Andy Beshear aan verslaggewers gesê.

“Ek is bekommerd dat meer as 50 mense dood is. Dit is waarskynlik nader aan ʼn getal tussen 70 en 100. Dit is absoluut tragies,’ het hy gesê en bygevoeg dit is “die ergste tornado in Kentucky se geskiedenis”.

Die goewerneur het gesê ʼn dak het by ʼn kersfabriek in Mayfield inmekaargestort en verskeie persone is oorlede.

“Ek het voor middernag ʼn noodtoestand uitgeroep,” het Beshear gesê.

ʼn Storm het Vrydag ook ʼn groot Amazon-pakhuis in Illinois getref. Minstens twee persone is dood. Plaaslike media berig ongeveer 100 werkers was in die pakhuis vasgekeer. Beamptes het deurnag gewerk om werknemers by die fasiliteit te red. Hulle was nagskofwerkers wat besig was om bestellings voor die Kersfeesvakansie te prosesseer.

Beeldmateriaal wys hoe ʼn groot deel van die Edwardsvilla Amazon-pakhuis se dak afgeruk is en een van die mure het inmekaargesak.

Richard Rocha, woordvoerder van Amazon, het in ʼn verklaring aan plaaslike media gesê die veiligheid en welstand van personeellede is hul topprioriteit. “Ons assesseer die situasie en sal bykomende inligting deel sodra dit beskikbaar gemaak word.”

Een persoon is in Arkansas dood en 20 is vasgekeer toe ʼn tornado die Monette Manor-versorgingsoord getref het. Diegene wat vasgekeer was, is suksesvol gered. “Die struktuur is egter min of meer heeltemal verwoes,” het Marvin Day, beampte van Craigheid, aan plaaslike nuuskanale gesê.

Minstens twee persone is in Tennessee dood in stormverwante voorvalle, het ʼn beampte van die nooddienste gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.